Mike Potgieter (links), aanbieder van Die Liftklub op Radio Tygerberg 104FM, saam met twee senior aannemingsbeamptes van die AACL, Helen Stadler (middel) en Amber Limbada (regs).

Die aftelling het begin na Radio Tygerberg 104FM se gewilde Tyger Run/Walk wat op Saterdag 21 Maart plaasvind. ‘n Rekordgetal deelnemers gaan weer die strate van Durbanville invaar vir een van die gewildste wedlope in die noordelike voorstede.

“Die Tyger Run/Walk het oor die jare gegroei tot iets baie besonders vir ons gemeenskap. Ons is ongelooflik trots op hierdie wedloop wat amptelik die grootste wedloop in die noordelike voorstede is. Jaar ná jaar sien ons hoe mense byeenkom vir ‘n oggend van energie, gees en samehorigheid,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder.

Die wedloop bied twee afstande – ‘n 15km- en ‘n 6km – en begin en eindig by die Tygervallei-winkelsentrum.

15 km-roete aangepas

Deelnemers moet kennis neem dat die 15km-roete vanjaar aangepas is. Atlete word aangemoedig om vooraf hulself met die nuwe roete vertroud te maak. Die roetekaart is beskikbaar op Radio Tygerberg se sosialemedia-platforms. Die 15km spring om 06:45 weg en die 6km om 07:15.

Atlete word versoek om vroeg op die oggend van die wedloop te arriveer aangesien sekere paaie gesluit sal wees en parkeerplek beperk kan wees. Deelnemers word ook aangemoedig om eerder saam te ry waar moontlik.

Verskeie strate in Kenridge sal gesluit wees of deur die roete geraak word. Wees asseblief bedag daarop.

Afhaal van wedloopnommers

Deelnemers kan hul wedloopnommers op Vrydag 20 Maart by die Tygervallei-winkelsentrum se Food Court op die grondvloer afhaal tussen 10:00 en 18:00.

Radio Tygerberg sal ook regstreeks vanaf die sentrum uitsaai, met die omroepers Rouchelle Liedemann en Neville D wat Saterdagoggend van 06:00 tot 09:00 tydens die wedloop luisteraars en deelnemers op hoogte sal hou.

Hardloop vir ’n goeie doel

Vanjaar se Tyger Run/Walk ondersteun die Animal Anti-Cruelty League (AACL). Benewens die donasies wat deelnemers reeds met hul inskrywings gemaak het, kan lede van die publiek ook op ‘n praktiese manier help.

Die organisasie sukkel tans met ‘n Parvo-uitbreking onder honde in hul sorg. Parvo (parvovirus) is ‘n hoogs aansteeklike virus wat veral jong honde affekteer en ernstige maag- en dermprobleme veroorsaak. Aangesien die virus lank op oppervlakke en materiaal kan oorleef, kan iets soos handdoeke en komberse nie net gewas en hergebruik word nie – dit moet ná een gebruik weggegooi word.

Die AACL het daarom ‘n groot behoefte aan ou handdoeke en komberse, asook blikkies troeteldierkos aangesien dit makliker is om medikasie aan diere toe te dien met sagte kos. Lede van die publiek wat wil help, kan hierdie artikels by Radio Tygerberg se kantoor kom aflewer tot en met Vrydag 20 Maart.

“Hierdie wedloop gaan oor baie meer as net hardloop of stap. Dit gaan oor gemeenskap en om saam ‘n verskil te maak. Ons is ongelooflik dankbaar teenoor elke deelnemer, luisteraar, kliënt en vennoot wat help om hierdie besondere dag moontlik te maak. Hou volgende week se TygerBurger dop vir die uitslae en hoogtepunte van Tyger Run/Walk 2026” sê Van Rooy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article