‘n Skare mense in Uitsig plunder ’n vragmotor wat weens die slegte weer vasgesit het.


Die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Ravensmead sê dit is uiters teleurstellend dat die gemeenskap van Uitsig, wat kinders en volwassenes insluit, betrokke was by die geplunder van ’n vragmotor verlede week.

TygerBurger het verlede week berig dat De la Rey-weg, wat Ravensmead met Parow verbind, oorstroom was. Weens die oorstroming het verskeie voertuie vasgesit. Die insittendes is deur inwoners van Ravensmead en Uitsig aangeval.

Van die voertuie wat vasgesit het, was ’n vragmotor van die nabygeleë Simba-skyfiefabriek. Inwoners het op die vragmotor toegeslaan en met sakke vol skyfies die hasepad gekies. Die skole was op die dag van die voorval gesluit, en talle kinders was ook betrokke.

Op video’s wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe mense – oud tot jonk – met die skyfies tussen die huise verdwyn. Die polisie het later op die toneel verskyn en die geplunder gestop.

KYK | Mense plunder vragmotor in Kaap wat weens stormweer vassit

Johannes Bastian, GPF-voorsitter, sê die tonele wat hulle afgespeel het, is teleurstellend en hartseer.

“Ons mense kry swaar, maar ’n geplunder is nie die regte manier nie. Ek is geskok oor wat gebeur het,” sê hy.

Kapt. Odwa Makupula, polisiewoordvoerder vir Ravensmead, sê niemand is nog in verband met die geplunder in hegtenis geneem nie. “Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd, hoewel daar ’n ruit ter waarde van R6 000 uitgegooi is,” sê Makupula.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article