Volgens die provinsiale departement van menslike nedersettings is kennis gegee aan ’n begunstigde van die Highbury-behuisingsprojek dat haar “gratis en gesubsidieerde eenheid” ontruim moet word omdat dit onwettig verkoop is.

Dit is die begin van ’n wetlike proses met 14 dae kans vir die verweerder om te reageer.

Gerugte doen al geruime tyd die ronde oor moontlike onwettige verkope van die sogenaamde Breaking New Ground (BNG)-huise wat deel uitmaak van die Highbury-behuisingprojek.

Dié projek met verskeie fases sluit 265 BNG-huise op die grond aangrensend van Nooiensfonteinweg en die Stellenbosch-hoofverkeersweg in. Die woongebied, wat in Desember 2019 voltooi is, staan nou as Riverside Gardens bekend.

Tertuis Simmers, provinsiale minister van infrastruktuur, het in Maart vanjaar, vergesel deur die wyksraadslid Ebrahim Sawant, ’n ter plaatse ondersoek gaan instel.

Ná sy onaangekondigde besoek op 17 Maart aan die woonbuurt het Simmers gesê drie van die huise waar hy aangeklop het, was onwettig verkoop en het nuwe inwoners gehad.

“Nie een van die oorspronklike begunstigdes het vooraf die departement ingelig van hul voornemens, of soos wat die wet bepaal, die departement die eerste opsie gebied om die eiendom terug te neem nie,” het Simmers gesê.

Ingevolge die Behuisingswet mag die begunstigde aan wie die eiendom toegeken is, dit nie binne die eerste agt jaar verkoop of op enige ander wyse verhandel nie, tensy die eiendom eerstens aan die betrokke provinsiale departement aangebied is.

Simmers het verlede week in ’n TV-onderhoud melding gemaak van ’n agent en oordragprokureur wat betrek word by onwettige transaksies.

Op navraag oor moontlike strafregtelike vervolging, het Muneera Allie, woordvoerder van die provinsiale departement van menslike nedersettings, gesê “verdere ondersoeke na die beweerde sindikaat wat in die (betrokke) gemeenskap doenig is, gaan voort.”

Allie sê die departement kan nie in hierdie stadium bevestig of enige ander uitsettingsbevele beteken is nie.

“Dit sal afhang van die omstandighede in elke geval. Waar bevind word dat goedgekeurde begunstigdes die bepalings van die koopkontrak tussen hulself en die departement en die konstruksiemaatskappy verbreek het, sal die departement die nodige stappe neem.”

In ’n aanlyn advertensie in Maart vanjaar is ’n tweeslaapkamerhuis in Riverside Gardens vir R499 000 geadverteer.

Een (wettige) plaaslike inwoner met wie TygerBurger gesels het, beweer 69 BNG-huise is reeds onregmatig verkoop, asook sowat 30 van die 100 huise wat aan militêre veterane in die buurt toegeken is. Die huise vir veterane is ’n aparte deel van die behuisingsprojek en nie deel van die 264 BNG-huise nie.

Die inwoner sê mense is telkemale gewaarsku dat die verkope onwettig is. “Nou sit die mense sonder titelaktes vir die huise, wat hulle – sommiges deur sogenaamde ‘eiendomsagente’ – gekoop het,” sê hy.

Sawant het by navraag gesê dat hy saam met die res van die Riverside-gemeenskap Simmers se aksie teen die onwettige verkope van BNG-huise “heelhartig ondersteun”. 

Sawant sê al die oorspronklike huiseienaars is behoorlik ingelig oor die voorwaardes wat daarmee gepaardgaan.

“Die gevolg is dat hulle uitgebuit word deur agente en sogenaamde gemeenskapsleiers en hul huise vir ’n appel en ’n ei verkoop. Die bietjie geld wat hulle kry, hou slegs ’n paar maande, dan sit hulle sonder ’n huis.” 

Sawant sê diegene wat betrokke was by die onwettige transaksies sal nie weer vir staatsgesubsidieerde behuising in aanmerking kom nie.

“Ek hoop mense besef dat hulle hulself en hul kinders verder in armoede dompel.”

Simmers sê daar is tans 568 000 mense op die behuisingswaglys in die Wes-Kaap geregistreer. 

“Ons kan daarom nie sulke onregmatige gedrag ongestraf laat nie. Ons hoop die departement se optrede sal diegene ontmoedig wat soortgelyke transaksies oorweeg. Ek doen ’n beroep op al ons burgers om nie slagoffers te word van hierdie kitsrykdom-skemas tot nadeel van ons regerings-infrastruktuur en gemeenskappe nie,” sê Simmers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article