Die Durbanville-polisie soek dringend ooggetuies van ’n voorval in Desember verlede jaar. Foto ter illustrasie. Foto: iStock


Die Durbanville-polisie soek dringend ooggetuies van ’n voorval in Desember verlede jaar waarin ’n vrou in Durbanville-laan in Durbanville deur haar man aangerand en uit hul motor gestamp is.

Die voorval het op 22 Desember omstreeks 16:00 by die verkeerslig op die hoek van Durbanville-laan en Eversdalweg (naby die Hoërskool Fairmont) plaasgevind.

Volgens die ondersoekbeampte, speursers. Dawid Fortuin van die Durbanville-polisie, is die vrou, Natassia Kotze-Loubser van Tyger-Waterfront, volgens haar verklaring by die verkeerslig deur haar man met ’n hamer in die motor aangeval en uit hul stilstaande motor, ’n swart VW Polo, gestamp. Sy het veelvuldige beserings, onder meer gesigbeserings en kneusplekke op haar lyf, opgedoen. Twee vroue het haar glo te hulp gesnel.

Haar man het aangery met hul sewe maande oue baba. Hy het later op die R27 naby Darling ’n ongeluk gemaak, waarin die baba gesterf het. Die verdagte is in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding op ’n aanklag van poging tot moord. Hy is verwys vir observasie en wag vir ’n bed in die Valkenberg-hospitaal, sê Fortuin.

Harttoestand

Kotze-Loubser (32) het aan ’n harttoestand gely en is sowat drie weke gelede aan ’n hartaanval oorlede. Volgens haar verklaring na die voorval was daar ’n geskiedenis van gesinsgeweld, sê hy.

Aangesien sy nou nie meer in die hof in die saak kan getuig nie, word daar gesoek na ooggetuies van die voorval.

Daar is wyd op sosiale media na getuies gesoek, en een van die vroue wat haar gehelp het, het na vore gekom, sê Fortuin.

“Daar word egter na nóg ooggetuies gesoek om geregtigheid te laat geskied. As niemand na vore kom nie, mag die saak teen die beskuldigde dalk teruggetrek word,” sê hy.

Ooggetuies kan speursers. Dawid Fortuin by 078 125 4176 of 068 677 8843 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article