Van links staan:Angelina Solomons, Judy Oliver, Roxelle Makamela met baba Bradwill Koordom (van die inwoners wat deur die brand geraak is), Wouter de Vos (wyksraadslid), Cameron van der Westhuizen en Franz Krause van Buzz Fire, wat die geskenkte goedere van die munisipale kantoor tot in Sarepta vervoer het.FOTO: carina roux


Ses wendyhuise – drie elk op twee aangrensende erwe – is verlede Vrydagoggend vroeg in ’n brand in Sarepta verwoes.

Judy Oliver, ’n ma van twee seuns wat ook drie jaar gelede alles in ’n brand verloor het, sê sy en haar vriend het kort ná 04:00 wakkergeskrik. “Ons kon lig deur die gordyne sien.”

Toe hulle die gordyne ooptrek, het hy gesien dit brand op die erf langsaan, waarna hulle die ander agterplaasbewoners wakker gemaak het, vertel sy.

Oliver sê hulle kon net ’n paar goedjies red, aangesien die brand baie vinnig versprei het.

Ses mans, vier vroue, vyf seuns (ouderdomme 6, 10, 11, 13, 14) en ’n ses maande oue babaseuntjie is deur die brand geraak. Niemand is ernstig beseer nie, maar die mense het die meeste van hul besittings verloor.

Wouter de Vos, wykraadslid, het Vrydag die erwe in Apollostraat besoek waarna hy ’n versoek aan die gemeenskap gerig het om met noodsaaklikhede soos klere en kruideniers- en toiletware te help. De Vos het die breër gemeenskap bedank vir skenkings wat oor die naweek ontvang is.

Franz Krause van Buzz Fire het die skenkings van grootliks klere en kruideniersware Maandagmiddag na Apollostraat vervoer.

Venecia Claassen, wat in kontak is met die inwoners, help ook om skenkings te versamel.

Sy het genoem dat beddegoed en huisware nog benodig word.

  • Bel Claassen by 064 229 7492.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article