Só het Zayaan Lakay se drein die afgelope week gelyk.


’n Gesin van Bonteheuwel moes ’n week lank saamleef met die stank van ’n drein wat oorgeloop het en hulle is nie gelukkig nie.

Zayaan Lakay sê haar en haar gesin se lewens is verlede week omvergewerp toe die drein by hul huis oorstroom het.

“Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie en ons is nou al keelvol. Ons wens daar was ’n blywende oplossing, want dit is elke keer dieselfde storie,” sê Lakay.

Lakay sê hulle het reeds verlede Maandag die probleem by die munisipaliteit aangemeld.

“Elke keer kry ons net ’n verwysingsnommer, maar niemand gee aandag aan die probleem nie. Toe ons uiteindelik terugvoering kry, is daar aan ons gesê die probleem kry aandag. Niemand het by ons huis opgedaag nie en die drein het dae lank so gebly. Dae later het ons gehoor hulle werk aan die hoofdrein, waar dit ook al is. Niks het by ons verander nie,” sê Lakay.

Lakay sê uiteindelik was hul stryd toe verlede Vrydag verby.

“Die vrou van die munisipaliteit sê hulle het eers die oggend die boodskap ontvang.

“Ek weet nie waar dinge skeefgeloop het nie, maar dit is uiters vreemd dat hulle eers Vrydag reageer op ’n klagte wat reeds die Maandag aangemeld is,” sê Lakay.

Angus McKenzie, plaaslike raadslid, sê hy sal uitvind hoekom dit so lank geneem het om die probleem op te los.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article