Misdaad | Crime
Polisieman in hof na skietery.

Gemeenskap geskok nadat polisieman glo twee afmaai, ander wond


Die gemeenskap van Blue Downs is steeds geskok oor die skietdood van twee gemeenskapslede wat Saterdagaand na bewering deur ‘n polisiebeampte verbonde aan die Mfuleni-polisie doodgeskiet is.

Keegan Petersen het na bewering vir Leando Fortuine en Wesley Carolissen doodgeskiet.

Huishoudelike probleem

Die voorval het Saterdag in Velvet Crescent plaasgevind toe Petersen se meisie, een van die oorledenes se suster, hulle glo in kennis gestel van ‘n huishoudelike probleem. Met hul aankoms het Petersen glo dadelik op hulle losgebrand. Hy het na bewering probeer om drie ander mense ook te skiet.

Petersen het Dinsdag in die Blue Downs-hof op twee klagte van moord, drie van poging tot moord en die besit van onwettige ammunisie verskyn. Die haelgeweer-patrone is glo in ‘n kluis by sy huis gevind. Hy het hom Sondag by die Kleinvlei-polisie oorgegee en sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning, op 6 Oktober.

Geskok

Frans Mashaba, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê hulle is geskok oor die gebeure. “Ek het op die nuus van die voorval gehoor, dus het ek nog nie al die inligting nie. Ons het ‘n versoek aan die stasiebevelvoerder gerig om meer inligting te kry, maar het nog niks ontvang nie,” sê Mashaba.

Hy sê hy wil nie in hierdie stadium te veel sê nie, maar wys daarop dat die gemeenskap nie die polisie moet vrees nie.

ALSO READ: Blue Downs-krieketklub betreur speler se skietdood

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article