‘n Ontstoke inwoner van Kuilsrivier het ernstige klagtes aan die lig gebring oor die toestand van die plaaslike begraafplaas, wat sy beskryf as “erger as ‘n varkhok”.
Sy woon nie ver van die begraafplaas af nie en sê die gemeenskap leef in vrees. Volgens haar is die terrein en omliggende gebied besaai met rommel wat vanaf mense se huise daarheen gebring word.
Teëls word van mure afgebreek en mense gebruik die begraafplaas as slaapplek – selfs bo-op grafte.
“Daar was vroeër ‘n kraan sodat besoekers water kon tap vir blomme by die grafte, maar van die mense het poedelnakend daar gestaan en hulself gewas, en die kraan oopgelos. Toe het die Stad dit verwyder,” sê sy.
In een verontrustende voorval is sy aangeval toe sy ‘n foto wou neem.
“‘n Man het oor die muur gespring, my gegryp en met my gestoei om my selfoon af te vat – dit was net twee weke oud en R10 000 werd. Ek is tydens die voorval beseer,” vertel sy.
Sy vertel ook van ‘n man wat ‘n bed bo-op ‘n graf gemaak het. “Mense wie se geliefdes hier begrawe is, het daarvoor betaal – nou kom plak ander mense net hier.”

Inbrake
In nóg ‘n voorval is sy gewaarsku oor ‘n verdagte man wat reeds ure lank in die begraafplaas gesit het toe sy ‘n geliefde se graf wou gaan skoonmaak. Toe die man in haar rigting aangestap het, het sy geskuil en die polisie ontbied, wat darem gou opgedaag het. Die man het glo vir die polisie gesê hy soek net na iemand se graf.
Inwoners van Dumasstraat, wat oorkant die begraafplaas geleë is, kla dat daar gereeld ingebreek word.
“Hulle klim oor die muur en steel goed uit mense se erwe. Mans in swart klere het al in die straat afgeloop met goed – die polisie het hulle gestop, maar nie eens deursoek nie.”
“Ek is bang in my eie erf. Ek moet nou altyd pepersproei gereed hê,” sê sy. Sy vertel ‘n kraan is uit die erf van ‘n bejaarde inwoner gesteel.
“Die water het heelnag geloop.”
Opknapwerk
Volgens Francine Higham, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, is die Kuilsrivier-begraafplaas deel van groter planne vir opknapwerk en uitbreiding.
“Daar is ‘n kritieke tekort aan beskikbare grafruimte in Kaapstad, wat vinniger as verwag opgeraak het weens die hoë aanvraag tydens die Covid-pandemie. Die erf vir uitbreiding van die Kuilsrivier-begraafplaas is lank gelede reeds gereserveer, maar moes wag op omgewingsmagtiging, hersonering en grondgebruikgoedkeuring. Die befondsing vir die uitbreiding is vir die 2025/26- finansiële jaar beplan,” sê sy.
“Die uitbreiding sal ook verbeterde heinings insluit, wat tot groter sekuriteit sal bydra. Met personeel en sekuriteit op die terrein behoort die kans op misdaad, diefstal en vandalisme af te neem.”
Francine Higham
Wat betref klagtes oor misdaad, veral onwettige toegang tot erwe in Dumastraat en die vermoede dat informele inwoners van die begraafplaas hierby betrokke is, sê Higham: “Die departement vir ontspanning en parke sal, waar moontlik, toegangsbeheer installeer met verbeterde heinings, en indien nodig, sal sekuriteitspersoneel aangestel word.”

Higham het bevestig dat die Stad planne het om ‘n uitsettingsbevel teen diegene wat onwettig op die terrein woon, te bekom. “Die departement sal met relevante owerhede kontak maak om die beste plan van aksie te bepaal.”
Tydens ‘n onlangse openbare vergadering oor die beplande “safe space” vir haweloses in Kuilsrivier, is genoem dat dit as tydelike alternatiewe verblyf kan dien vir mense wat verskuif moet word wanneer die Stad ‘n uitsettingsbevel aanvra.
TygerBurger wou weet of ‘n uitsettingsbevel sou moes wag tot ná die voltooiing van die “safe space” (ten vroegste in 2027). Higham het die vraag ietwat gesystap en geantwoord: “Die ontwikkeling van die begraafplaasuitbreiding is nie afhanklik van die voltooiing van die ‘safe space’ nie.”
Higham herinner inwoners daaraan dat stadsbegraafplase as openbare oop ruimtes geklassifiseer is en dus vir almal toeganklik moet bly. Sy moedig besoekers aan om nie alleen te gaan nie, maar in groepe. Moenie waardevolle items saamneem nie, en bly waaksaam, sê sy.
“Gemeenskapsbetrokkenheid is een van die mees effektiewe maniere om openbare fasiliteite te beskerm. Ons vra dat inwoners enige voorvalle van vandalisme of diefstal by plaaslike sekuriteit of by die Stad se noodoproepsentrum by 021 480 7700 moet aanmeld,” sê sy.








You must be logged in to post a comment.