‘Gee hulle ’n kans’, sê Bellville-organisasie oor gestremdes

Heindrich Smith van Elsiesrivier is senior toesighouer by Chris Steytler Industries in Triangle Farm, Bellville. Hier word mense met neurologiese en ander gestremdhede die vaardighede geleer om by


Gee hulle net ’n kans.

Só vra die organisasie Chris Steytler Industries (CSI), wat in Triangle Farm geleë is, oor die gestremde mense wat hulle vir die werkplek oplei.

’n Mens kan maklik verby CSI ry – dit is in ’n onopvallende gebou in die nywerheidsgebied geleë.

Maar, soos ’n geheime kasdeur, maak dié ingang op ’n lewensveranderende plek oop.

Honderde mense met neurologiese en ander gestremdhede is al oor die afgelope drie dekades hier werkfiks gemaak.

Hulle sit daagliks hier en verrig verskillende soort take, soos om proppe op bottels te sit of om stukkende hangers van bruikbare hangers te sorteer.

Dié werk word in opdrag van buitemaatskappye gedoen, wat dan vir CSI betaal.

Die gestremdes kry dan ’n klein toelaag, maar hulle word ook werkbeginsels geleer wat vir ander dalk voor die hand liggend is.

Elkeen het spesifieke doelwitte wat hulle moet bereik, wat aan hul toelaag verbonde is, sê Sharne Mostert, administrateur van CSI.

By CSI leer hulle om stiptelik en netjies te wees, om in ’n span te werk, hoe om met geld te werk en om gemotiveerd te bly. Hulle ontvang ook arbeidsterapie, van onder andere studente van die Universiteit van Wes-Kaapland sowel as dié van Kaapstad en Stellenbosch.

Boonop word hulle waardeer. Hier verstaan CSI se personeel elkeen se individuele uitdagings en leer hul werkers hoe om ten spyte daarvan die beste weergawe van hulself te wees, sê Mostert. “Vir baie werkers is CSI hul rede vir opstaan. Dit is hul doel in die lewe, want daar word hulle ook gestimuleer,” sê sy. Die plan is dat maatskappye ná ’n paar maande vir die mense ’n werk gee. Afhangend van die werk, sal CSI vooraf ekstra opleiding vir die werknemer en -gewer gee sodat almal gelukkig is.

“Ons is nie die eindpunt nie,” sê Mostert. “Ons is die stepping stone.”

Yusrah Adams, CSI se permanente arbeidsterapeut, sê CSI is ’n veilige plek vir hul werkers om te oefen en te leer om vir hulself op te staan. Vir baie is net die blote gedagte aan werk aanvanklik skrikwekkend.

Hulle sien drastiese verbetering by die mense wat by hulle is.

Die probleem is egter dat baie maatskappye nog skrikkerig is om mense met gestremdhede aan te stel, selfs al is CSI daar om alle vrae te beantwoord en om bystand te bied.

Die meeste mense bly werk dus vir jare by CSI.

Daar is geen rede hoekom een van hulle nie ’n pakker by ’n supermark kan wees nie, sê Mostert, of klere kan help verkoop nie.

“Ons mense is eager, hulle is willing.”

Boonop het die CSI die afgelope paar maande al minder kontrakte gekry soos groot maatskappye sukkel om hul eie finansiële mas op te kom.

CSI kan dus al minder mense help. Baie gewillige werkers sit by die huis en wag dat CSI bel en sê daar’s werk.

Hulle het ’n elle lange waglys van mense wat nog nie opleiding kon ontvang nie.

“Ons kan nie groei soos ons wil nie, want daar is nie werk nie.”

Heinrich Smith, senior toesighouer, is al 12 jaar by CSI. Hy is duidelik gemotiveerd om sy beste te gee. “Ek is nog nie waar ek wil wees nie,” sê hy.

“Maar dit is baie lekker om hier te werk. Die mense is my tweede familie.”

Marlise Esterhuyze, bestuurder, werk al 29 jaar vir CSI. Sy sê dis belangrik dat al hul werkers leer dat elkeen ’n impak het op die algehele ervaring wat ’n koper het.

“Maak seker dat as jy nie by die werk is nie, daar ’n leemte is. As jy ’n skoonmaker is, wees die beste skoonmaker wat jy kan wees.”

CSI is reg om ander te help, beaam elkeen by hul perseel. “Ons het mense en maatskappye nodig om ons te help om hulle (die werkers met gestremdhede) te help,” vra Adams.

“Mense besef nie hoeveel waardigheid werk vir ander gee nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article