’n Slangvanger het verlede week ysige water getrotseer om slange uit ’n vlei te red.
Die vlei se watervlak was hoër as normaalweg weens die erge stormweer wat groot dele van die Wes-Kaap verlede week getref het.
Davine Sansom sê sy en haar seun, André Barnard, is albei gekwalifiseerde slangvangers. Barnard het die slange verlede week gered.
Sansom is verlede Donderdagoggend op sosiale media deur inwoners ingelig oor die slange op die heining by Rietvlei langs die R27.
“Met ons aankoms het ons stadig gery en na die slange gesoek. My seun het die slange opgemerk en het dadelik die yskoue water ingegaan. Hy kon daarin slaag om van die slange wat aan die heining gehang het, te red.
“Slange is goeie swemmers, maar die ysige water maak dit moeilik vir hulle om lang afstande te swem en hulle kan verdrink,” het sy verduidelik.
Die slange wat uit die water gehaal is, sluit in skaapstekers en bruin waterslange, asook ’n klein muis wat volgens Sansom bedreig is.
“Verlede jaar September tydens die vloede het ons 64 slange gered, asook verkleurmannetjies en akkedisse,” sê Sansom.
Hul dienste dek die hele Weskus tot by Atlantis en Philadelphia. Hulle bedien egter grotendeels Table View, Blouberg en Melkbosstrand.





