’n Bothastraat-inwoner is in angs en vrees gelaat nadat iemand by haar woning ingebreek en met goedere van R30 000 weggekom het.
Ansie Matthee (71) sê sy het op 4 September, omstreeks 7:15, iemand gesien wat haar afstandbeheerboks se drade geknip, die elektriese hek oopgeskuif en die hek van sy spoor afgehaal het.
Hulle het toe die garagedeure se slotte met ’n boutsnyer afgeknip en by die garage ingegaan.
Matthee se seun is ’n gekwalifiseerde werktuigkundige en het aan ’n motor gewerk wat hy opgebou het.
“Ek ly aan skok en is getraumatiseer, want dis R30 000 se gereedskap en masjiene wat gesteel is,” meen Matthee.
“Ek is baie teleurgesteld in die polisie en speurder se onvoltooide werk, en ek kry geen berading van hulle nie.”
Die 71-jarige sê enige geluid maak haar in die nag wakker.
Saak gesluit
Oor die onopgespoorde saak is sy ook baie geskok dat die polisie die saak gesluit het sonder hul toestemming en “niks verder gedoen het” nie.
“Ek weet nie meer hoe om dit te hanteer nie.”
Op 3 September was daar ook ’n inbraak in Bothastraat waarin die Goodwood-polisie vyf vermeende rowers in hegtenis geneem het weens die besit van nagemaakte vuurwapens en gesteelde goedere. In dié voorval is die inwoners met ’n vuurwapen gedreig. Die rowers het in ’n swart BMW rondgery.
“Laasnag was daar nog inbrake in Marshallstraat en Tygerbergstraat oorkant my huis. Ek ly erg aan depressie en huil gereeld.”
Die 71-jarige sê die openinge is waar die kompressor met motoronderdele, gasbottels en ’n sweismasjien gestaan het. “Die polisie se verslae was onvoltooi en nie volledig opgeskryf nie.”
Vingerafdrukke is volgens Matthee ook nie volledig geneem nie. “Daar is nog vingerafdrukke op die motor se venster wat nie geneem is nie.” Wat Matthee die meeste ontstel, is dat die saak ná net drie dae gesluit is.
Veskeie inbrake in gebied
Met die verskeie inbrake in een gebied sê kapt. Wayne Theunis, kommunikasiebeampte van die Goodwood-polisie, misdaad is algemeen en geen plekke word spesifiek vir huisbrake geteiken nie.
Hy sê volgens hul rekords is vingerafdrukke by Matthee se woning geneem en die uitslag was negatief. Die saak is toe as “onopgespoor” afgesluit.
Theunis het ook gesê die Goodwood-polisie sal Matthee met berading bystaan.





