Past. Hubert Kemp, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê dinge is besig om lelik handuit te ruk in Eersterivier. Photo used as illustration.

Photo: André Damons/Archive

Inwoners van Eersterivier is moedeloos omdat ’n bende-oorlog reeds meer as ’n week daar woed.

Dit is nie eens net saans dat inwoners nie kan slaap nie, want die bendes skiet nou al helder oordag. Sosiale media het behoorlik gegons oor die skietery wat in byna elke buurt plaasgevind het.

Past. Hubert Kemp, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê dinge is besig om lelik handuit te ruk in Eersterivier.

“Ons lewe in ’n oorlogsone. Dit is asof die bendes net nie meer omgee nie. Ek hoor daar is sommer naby skole ook geskiet,” sê Kemp.

Daar word beweer dat sommige skole moes sluit weens die skietery.

Volgens Kemp wag hy nog om ’n volledige verslag van die plaaslike polisie te kry.

“Ek het gehoor daar is op die polisie ook geskiet, maar ek kan dit nie onafhanklik bevestig nie. Die gemeenskap wil weet wat die vonk is wat die kruitvat laat ontplof het,” sê hy.

Andiswa Booi skryf op Facebook sy was nog nooit so bang nie. “Ek het my dogtertjie baie styf vasgehou terwyl hulle in my straat geskiet het.”

Marshalle Forbes skryf: “Mense, dis oorlog, Here, wees genadig. Mense wees veilig, want die skote hou nie op nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article