Kara le Roux op pad na Morocco.


’n Matriekmeisie (17) van Durbanville vertrek op 12 Augustus met haar stoeipakkie – met ’n goudgeel protea voorop – in haar tas om in Sofia in Bulgarye aan die wêreldkampioenskap te gaan deelneem.

Kara le Roux, ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Durbanville, is gekies as lid van die o.20-Proteaspan – die enigste vrou in die span – om van 15 Augustus haar slag in die o.59 kg-afdeling te wys.

Dis nie die eerste keer dat sy die o.20-Proteaspan verteenwoordig nie. Sy het in Mei vanjaar haar Protea-kleure verwerf en in Morocco aan die Afrika Internasionale Stoeikampioenskap gaan deelneem, waar sy ’n bronsmedalje gewen het.

Sy het ook al vyf SA titels in haar gewigsafdeling verwerf.

Kara het ses jaar gelede op 11-jarige ouderdom saam met haar broer, Albert (16), begin stoei.

Volgens haar ma, Heloise le Roux, was Kara se motivering om te begin en aan te hou stoei die oud-Vrystaatse stoeier Gilbert Francke, ’n afrigter by die Brackenfell-stoeiklub.

“Hy is ook ’n gesinsvriend en het vir haar haar gunsteling-stoeigreep geleer – ’n mens noem dit die ‘cradle’-greep.”

Francke is intussen aan breinkanker oorlede.

“Ons glo Gilbert is vandag ontsettend trots op die sukses wat sy behaal,” sê haar ma.

Kara se liefde vir stoei het aanvanklik by die Brackenfell-stoeiklub begin, maar as enigste meisie in die klub het sy dit maar moeilik gevind onder die seuns, vertel Le Roux.

Kara het daarom geskuif na die Olympians-stoeiklub in Durbanville, waar die Bosse-gesin – bestaande uit Sakkie, Wendy en Reinhard Bosse – kosbare mense in haar lewe geraak het.

Kara is ook betrokke by die afrigting van beginnerstoeiers, en help onder meer haar eie jonger boetie, Israel (7), en ander stoeiertjies met hul dissipline en om van hul ekstra energie ontslae te raak.

Sy blink ook akademies uit en is ’n A-kandidaat. Sy beoog om volgende jaar aktuariële wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, maar gaan haar stoeiloopbaan voortsit.

“Ons kyk regtig op na Kara en ons verwagtinge is groot. Ons weet sy gaan haar bes probeer en is ongelooflik trots op haar,” sê Le Roux.

Die koste van haar deelname beloop sowat R46 000. Indien enigiemand belangstel om tot haar onkoste by te dra, kan hulle Wendy Bosse by 076 256 5506 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article