Dringende optrede nodig om gewelddadige aanvalle en klipgooiery op N2 en R300 te stop

In die lughawe-omgewing alleen is 42 gevalle van bakstene wat na voertuie gegooi is tussen April 2024 en Maart 2025 aangeteken.
In die lughawe-omgewing alleen is 42 gevalle van bakstene wat na voertuie gegooi is tussen April 2024 en Maart 2025 aangeteken.

Kaapstad se N2- en R300-hoofweë het oorlogsones vir motoriste geword, met `n skerp toename in klipgooiery en dodelike aanvalle die afgelope tyd, sê Emre Uygun VF Plus-raadslid in die Stad Kaapstad.

Die VF Plus het talle klagtes ontvang van motoriste wat onlangs slagoffers van aanvalle op die N2 geword het. Op Dinsdag, 11 November omstreeks 20:00, is `n gesin van Johannesburg, insluitend `n baba, geteiken toe `n klip hul voertuig getref het. Die voorval het groot skade aan die motor aangerig en die gesin ernstig getraumatiseer.

Skokkende ervarings

Die VF Plus het ook telefonies met `n dokter van Somerset-Wes gepraat nadat hy op Donderdag, 13 November, om 19:00 naby die Borchards Quarry-afrit aangeval is. Hy het borsbeserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

“Ook het `n Ma het via sosiale media haar seun se skokkende ervaring gedeel toe sy voertuig vroeër die maand met `n klip gegooi is op die Stellenbosch Arterial, net voordat hy op die R300 gedraai het,” sê Uygen.

Volgens hom skets nuwe data van die Kaapstadse metropolisie skets `n onheilspellende prentjie van die situasie.

Tussen November 2024 en November 2025 het wetstoepassers op 2 215 misdaadverwante voorvalle op die N2- en R300-korridors gereageer.

“Drastiese maatreëls móét dringend ingestel word om verdere sterftes op hierdie berugte “Hell Run” te voorkom.”

Hierdie sogenaamde “Hell Run” strek tussen Somerset-Wes en die Kaapstad Internasionale Lughawe, asook die R300-aansluiting.

“Tussen November 2024 en November 2025 het wetstoepassers op 2 215 misdaadverwante voorvalle op die N2- en R300-korridors gereageer—insluitend klipgooiery, rooftogte en skietvoorvalle.”

“In die lughawe-omgewing alleen is 42 gevalle van bakstene wat na voertuie gegooi is tussen April 2024 en Maart 2025 aangeteken. In die afgelope ses maande is minstens vyf bevestigde klipgooi-aanvalle gedokumenteer.”

Intussen neem die menslike tol toe. Motoriste ly gesigbeserings, trauma en voertuigskade, terwyl toeriste wat by die lughawe aankom of vertrek, toenemend geteiken word.

Voorvalle sê hy sluit in `n dodelike skietvoorval op 28 Julie 2025 nadat klipgooiers ’n motoris op die R300 tot stilstand gedwing het, en `n netonblok wat op 1 Augustus 2025 na `n bewegende voertuig gegooi is, wat `n vroulike passasier ernstig beseer het.

“Hierdie aanvalle volg `n koue patroon: klippe of bakstene word vanaf voetgangerbrûe, padrande of die rand van informele nedersettings gegooi. Dit versplinter ruite en dwing bestuurders om te stop, waarna hulle beroof, gekaap of wreed aangeval word,” voeg hy by.

Samewerking nodig

Uygun sê Sanral het reeds in 2023 meer as 200 soortgelyke voorvalle aangeteken en die huidige tendens dui daarop dat 2025 selfs erger gaan wees.

“Hierdie is `n noodsituasie. `n Multi-belanghebber-beraad tussen die Stad Kaapstad, Sanral, die polisie en die provinsiale regering moet sonder versuim belê word,” sê hy. “Intussen neem die menslike tol toe. Motoriste ly gesigbeserings, trauma en voertuigskade, terwyl toeriste wat by die lughawe aankom of vertrek, toenemend geteiken word.”

Die VF Plus glo dat daar onmiddellik opgetree kan word deur die volgende stappe te implementeer: Die herstel van alle beskadigde snelwegomheinings en aktivering van stukkende CCTV-kameras; die ontplooing van permanente gewapende patrollies by die ses hoë-risiko voetgangerbrûe; jeugopleidingsprogramme in Philippi, Nyanga en Crossroads om die oorsake aan te spreek en die integrasie van regstreekse voorval-verslagdoening tussen die metropolisie, Sanral en die publiek.

“Voorkoming is nie ’n keuse nie, maar ’n noodsaaklikheid. Elke gebreekte heining en onbewaakte brug is ’n uitnodiging tot die volgende aanval. Die Stad kan nie sy verantwoordelikheid afskuif nie. As daar nie dringend opgetree word nie, sal die bloed van onskuldige motoriste aan sy hande kleef,” sluit hy af.

TygerBurger wag tans op kommentaar van die Stad Kaapstad oor die situasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article