Van Riebeeckshof-inwoners is woedend oor ’n tendens wat reeds die dood van twee volwasse rooikatte in drie maande in die Majik Forest-park veroorsaak het.
Diegene wat hul hartseer en ongelukkigheid oor die diere se lot teenoor TygerBurger uitgespreek het, meen dit is weens besoekers se roekelose sorgeloosheid wanneer hul in die woud verkeer.
“Toe die tweede volwasse rooikat in so kort tydperk deur ’n inwoner van La Veritas-landgoed dood gevind is, het dit weer groot drama ontlont,” sê Emil Scheepers, voorsitter van die Van Riebeeckshof-huiseienaarsvereniging.
Motorfietse en honde
Nog ’n inwoner, wat sy naam uit vrees vir teistering weerhou het, meen die rooikatte se dood is as gevolg van besoekers aan die Majik Forest-park wat nie die park se reëls gehoorsaam nie.
“Ons is hewig ontsteld want ons let op hoe enkeles met hul honde sonder ’n leiband in die park kom stap. Ons weet ook van ’n jongman wat soms met sy scrambler (veldmotorfiets) ook in die park ry, al word dit belet.”
Die man sê hy verstaan dat inwoners wat aangrensend van die Majik Forest-park woon se troeteldiere soos honde en katte in die verlede ook deur rooikatte beseer is.
“Maar ons as mense moet spesiale voorsorg tref om in harmonie met die wild saam te leef.”
Hy vertel dat sy vrou Maandag 2 September aan die bokant van die woud op die grens tussen die Maastricht- en D’Aria-plase, die tweede dooie rooikat ontdek het.
“Die keer het dit gelyk asof die kat se pels nat was – dalk vol speeksel, met ’n oop gat wat lyk soos ’n bytmerk aan die kat se sy. Die bekkie was ook bebloed, wat na my mening toon dat hy om sy lewe geveg het.”
Hy glo dis heel waarskynlik dat die rooikat deur honde doodgebyt is.
Stap gereeld
“My vrou stap gereeld met ons hond in die woud. Op een geleentheid toe ons daar stap, het twee honde sonder hul leibande op ons afgestorm. Sommige mense is eenvoudig moedswillig en vee hul af aan die park se reëls,” sê hy.
Die eerste rooikat is vroeër vanjaar op Maandag 13 Mei deur besoekers aan die park dood gevind.
“Daai kat het nou weer gelyk asof hy omgery was, dalk met ’n fiets of motorfiets. Dit het sulke merke op sy lyfie gehad, wat lyk soos die van fietsbande wat oor hom gerol het.”
Kat se karkas verdwyn
Die besoekers wat op die eerste rooikat se oorskot afgekom het, het dit onder die owerhede se aandag gebring, waarna ’n nadoodse ondersoek gedoen is.
“Hulle kon bevestig dat die eerste rooikat erge inwendige beserings opgedoen het, maar hul kon nie met sekerheid die oorsaak van sy dood bepaal nie.”
Maar, toe wildbewaarders op pad was om die tweede rooikat se oorskot op te laai en die oorsaak van dood te bepaal, het die rooikat spoorloos verdwyn.
“My vrou het gelukkig foto’s geneem en dit is al wat ons aan die wildbewaarders kon toon as bewyse.”
Ronel Viljoen, raadslid vir Wyk 70, meen die gemeenskap se reaksie op hierdie tragiese gebeure was oorweldigend.
Ander diere ook
“Die feit dat mense hul honde van hul leibande afhaal in parke en in die natuurtuine, is ’n groot probleem. Daar is ook bokkies en ystervarke wat rondbeweeg en in gevaar is.”
Viljoen beveel besoekers aan die Majik Forest-park, wat enige wilde diere se karkasse ontdek, aan om dit aan te meld deur 021 480 7700 te bel.
“Mense word aangeraai om soveel moontlik foto’s van enige wild se karkasse af te neem om aan die owerhede te verskaf, ingeval daar weer ’n geval is waar die karkas verwyder word,” voeg Viljoen by.





