‘n Boks met ou familiefoto’s het daartoe gelei dat die bekroonde Diemersdal-wynlandgoed vandeesweek met die bekendstelling van drie wyne in die nuwe Prospect-reeks sy ryke erfenis eer — toevallig met die viering van Erfenisdag.
Die plaas dateer terug na 1698, en sedert 1885 bewerk ses geslagte van die Louw-familie dieselfde grond, maak hulle wyn en noem die plaas hul tuiste. Kelders is gebou en herbou, wingerde het gekom en gegaan, maar die plaas se storie het behoue gebly.

Die nuwe Prospect-reeks het sy oorsprong by ‘n boks ou foto’s wat op die plaas gevind is — foto’s van ‘n vragmotor propvol kinders, ’n perd wat voor die ou melkery staan, en twee vriende wat tussen lenteblomme lê. Elkeen van die drie bottels dra een van dié beelde op sy etiket — ’n stille knik na die Louws wat voor die huidige sesde geslag gekom het, lui ‘n mediaverklaring.
Namakwalandse madeliefies
Die etiket van Prospect Sauvignon Blanc 2025 wys die vierde geslag se Annette Louw saam met haar vriendin Cora, uitgestrek tussen Namakwalandse madeliefies op Diemersdal, met die lente wat oral rondom hulle aanbreek. Die druiwe vir die wyn kom uit Darling, wat met met sy ligging nader aan die koue Atlantiese Oseaan rypwording vertraag sodat dit langer sy varsheid behou.

Die druiwe kom van ’n 20 jaar oue blok op ’n helling waar die rye noord na suid loop sodat sonlig eweredig deur die lower kan beweeg, en word droëland verbou.
“Die wyn smaak nie soos ’n standaard sauvignon blanc uit ’n koel klimaat nie. Ryp steenvrugte kom eerste na vore, onderlê deur ’n vuurklipkarakter wat amper rokerig raak, terwyl grafiet stadig ontwikkel en, met blootstelling aan lug, ’n fluistering van seesout en appelliefie dit afrond. Die verhemelte bly helder en jeugdig, met suur wat alles regop hou, terwyl die tekstuur effens olierig word sodat die geur lank bly hang en minerale detail deur ’n lang afronding dra. Dit is ’n wyn wat kos vra en geduld beloon, veral vars Weskus-seekos wat oor die vuur gaargemaak word,” lui die verklaring.
Oupagrootjie op perd
Die etiket op Prospect Barbera 2024 reik self langer terug. Lank voordat die huidige eienaar, Thys Louw, sy plek op Diemersdal ingeneem het, sit sy oupagrootjie (ook Thys) te perd langs ’n vriend, terwyl sy susters, Annette en Irene, saam met vriende voor die plaas se ou melkery speel — dieselfde gebou wat nou deel van die proelokaal vorm.

Barbera is ’n ongewone kultivar in Durbanville. In Italië word dit vir sy skerp suur en ruim kleur gewaardeer. Dit benodig ’n ligging wat groeikragtigheid kan temper sonder om rypwording te ver te dryf. Die 2024-seisoen het die kultivar getrou aan sy aard gehou, met druiwe wat teen 24,5 grade Balling aangekom het, terwyl natuurlike suur steeds hoog en kleur van die begin af sterk was. Op die verhemelte dryf suur alles vorentoe, wat die wyn lewendig en beweeglik hou, lui die verklaring.
Die etiket van die Prospect Solderwyn NV vertel die storie van die derdegeslag-eienaar Tienie Louw, wat in ’n vragmotor sit saam met Ouma Anna (links onder die deur). Gesinslewe en wynmaak was destyds nou verweef, met kinders wat op die vragmotor gery het terwyl werkers langsaan gestaan en die oes deur die werf beweeg het — alles in die volle sig van die plaaslewe.
Ryp druiwe is gevries
Solderwyn is gemaak van sauvignon blanc van 16 jaar oue wingerdstokke op ’n prieel in Durbanville. Wat ná die pluk gebeur, onderskei die wyn. Ryp druiwe is gevries om sap en geur te konsentreer, sodat fermentasie stadig begin onder uiters hoë suiker, wat die gis laat sukkel. Die fermentasie stop vanself by ongeveer vyf persent alkohol, wat baie natuurlike suiker onaangeraak laat, voordat die jong wyn met suiwer druiwespiritus versterk word.

Dié stap stabiliseer die wyn, demp mikrobiese aktiwiteit en help om geur uit die eikehout te onttrek terwyl alles saamsmelt. Die veroudering volg die Madeira-metode waarin die wyn in ou 500 liter-Franse eikehoutvate op die solder bokant die kelder gehou word, waar die somerhitte tot sowat 45 grade Celsius styg.
Die Prospect-reeks is eksklusief beskikbaar by die Diemersdal-proelokaal op die landgoed.
LEES OOK: Diemersdal behaal ’n driekuns by mylpaal-Pinotage Top 10




You must be logged in to post a comment.