Die bloed het weer die afgelope naweek in die strate van Kaapstad gevloei met tientalle mense wat doodgeskiet is. In TygerBurger se verspreidingsgebied is ten minste twee mense dood geskiet.
In Belhar is ‘n 37-jarige man verlede Vrydag veelduldige kere geskiet terwyl hy om 16:30 in Elsenbergstraat gestap het en twee onbekende mans op hom losgebrand het. Hy het wonde aan sy lae rug, regterskouer en linkerbeen opgedoen.
Twee geskiet
Twee mans is ook in die vroeë oggendure van Sondag in Eersterivier geskiet, met een van die slagoffers wat op die toneel dood verklaar is. TygerBurger het Maandagoggend die gemeenskap van Forest Village besoek, maar is met die aankoms gewaarsku dat daar groot spanning in die gemeenskap heers. “Meneer moet eerder nie hier wees nie,” het die persoon wat die aanvanklike uitnodiging gestuur het gewaarsku. “Niemand vertrou vir niemand nie. Ons weet nie wie hou ons dop nie, so gaan maar liewer.”
In Philippi-Oos is agt mense Saterdag in ‘n drinkplek doodgeskiet, terwyl ‘n 13-jarige seun sy lewe in Seawinds in vermoedelik ‘n bendeverwante skietery verloor het.
Gemeenskappe lewe in vrees
Die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het in ‘n verklaring die geweld op die Kaapse Vlakte veroordeel. “Gemeenskappe lewe in konstante vrees vir misdadigers wat los rondloop. Die polisie moet dringend hulpbronne aan stasies verskaf en vakanste poste vul sodat alle ernstige misdade opgelos kan word en die skuldiges aan die pen ry,” sê Marais.
Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.
Willie Jaftha, raadslid vir Belhar, sê hy is jammer oor die geskietery in die gebied. “Ek doen ‘n beroep op strydende partye om vrede te maak en meer daarop te fokus om die jeug op te bou,” sê Jaftha.





