Dit is al vyf maande sedert die Hoërskool D.F. Malan aangekondig het dat hy sy naam na DF Akademie wil verander.
Maar die implementering al dan nie gaan nog ten minste vir die nabye toekoms sloer terwyl die saak voor die hof dien.
Intussen het die belangegroep wat die beheerliggaam uitdaag, hul misnoeë uitgespreek oor reëls wat verander is sodat ’n “seun by die skool in ’n rok (kan) skoolgaan”.
Die beheerliggaam het onlangs aangekondig hulle gaan die hersieningsaansoek deur Trots D.F. Malan teenstaan. Dit is net een stap in die regsproses tussen die twee groepe wat begin het toe Trots D.F. Malan verlede jaar ’n interdik teen die naamsverandering by die skool voor die hooggeregshof in Kaapstad gebring het.
Trots D.F. Malan voer onder meer in hul aansoek aan dat die proses om die naam te verander, “nie regverdig, eerlik, deursigtig en wettig” is nie en hulle dring aan op ’n referendum.
Die groep se woordvoerder, Francois Malan, sê hoewel hulle net vier applikante in die hofsaak is, verteenwoordig hulle meer as 800 mense.
In hul hofsaak wil hulle ook die hof vra om uitspraak te lewer oor of die beheerliggaam bevoeg was om die proses om die skool se naam te verander, te hanteer.
Hulle vra ook die hof om die proses wat gevolg is, te hersien en besluite wat geneem is, tersyde te stel.
Andre Roux, voorsitter van die beheerliggaam, sê in hul nuusbrief aan ouers “ons verbind daartoe dat al ons besluite geneem oor die afgelope drie jaar rasioneel, en in die beste belang van die skool en die leerders, was.”
Trots D.F. Malan sal nou, indien nodig, die hersieningsaansoek wysig.
Die groep het onlangs in ’n Facebook-plasing kapsie gemaak oor ’n leerder wat as ’n seun gebore is en nou meisie-klere dra.
“Die skool het tog duidelike reëls oor skooldrag vir seuns en meisies.”
Hulle sê hulle veroordeel niemand nie, maar wel die optrede “in die konteks van die reëls van die skool en die plig van die skoolbestuur om dit toe pas”.
Verteenwoordigers van die groep het aan TygerBurger verduidelik hulle “reageer uit die hoek van die instelling” wat hulle glo vir almal moet optree.
Om die kind ander klere te laat dra, is “dubbele standaarde, deel van ’n ideologiese en aktivistiese agenda en kan lei tot verwarring en polarisering”.
Daar is verskeie onbedoelde gevolge wat uit so ’n besluit kan spruit, meen hulle.
En die langtermyngevolge daarvan moet oorweeg word.
Sias Conradie, skoolhoof, het by navraag gesê hulle het die hele proses volgens skoolbeleid hanteer “in die beste belang van die kind”.
Dit is ook nie die eerste keer dat die skool ’n transgender-leerder akkommodeer nie.
“Ons as skoolbestuur keur enige vorm van diskriminasie teen leerders af.”





