Die eerste rugbyspanne van die hoërskole Stellenberg, Brackenfell en Bellville het – soos in hul interskole-botsings die vorige paar jaar – die afgelope Saterdag andermaal stem dikgemaak.
Vir hul onderskeie teenstanders, Durbanville, HS Tygerberg en DF Malan, bly die situasie onveranderd: “Ons probeer maar weer aanstaande jaar”.

Stellenberg het in die tweede helfte die hef in die hand gekry om die Durbies met 21-14 te troef.
Brackenfell het met beter benutting van sy puntekanse met 18-9 teen Tygerberg gewen.
HS Bellville was met 15-3 te sterk vir DF Malan.
Monumentpark het in Kraaifontein sy jaarlikse interskolestryd teen Vredenburg voortgesit, maar ondanks verskeie navrae is geen terugvoer ontvang nie.

Elders het Milnerton sy goeie vorm gehandhaaf en HS Strand met 41-18 gelooi terwyl Tygerbergklub met 20-17 die meerdere van Table View was.
HTS Bellville het genoeg rede om ongelukkig te voel oor sy onderonsie met die Hamlets-klub.
Om een of ander duistere rede het Hamlets se afrigter self as skeidsregter in die wedstryd opgetree en (vanselfsprekend) sodanige besluite geneem wat die Bellvilliete van ‘n oorwinning ontneem het, aldus beamptes van HTS Bellville. Die eindtelling was 7-7.

Twaalf o.19-spanne sal dit Woensdag uitspook in Beal Travel se jaarlikse sewemantoernooi, wat by die Laerskool Curro in Bellville plaasvind. Die spanne ding in vier groepe mee, waarna die afdelingwenners mekaar in die halfeindronde die stryd sal aansê.
Die deelnemende spanne is: Afdeling A: Brackenfell, Curro Durbanville en Melkbosstrand. Afdeling B: De Kuilen, Bosmansdam en HS Bellville. Afdeling C: Bellville-Suid, HS Tygerberg en Monumentpark. Afdeling D: HTS Bellville, Curro Delft en Milnerton.






You must be logged in to post a comment.