Chinese burger hardloop boef in, kry sy besittings terug

Die polisie het Chinese burgers se geld en eiendom teruggevind.

Credit: SYSTEM

Twee Chinese burgers het onlangs nie toegelaat dat boewe in Valhallaweg met hul besittings wegkom nie.

Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het die twee doodluiters in Valhallaweg gery en by ’n verkeerslig stilgehou.

“Toe hulle by die verkeerslig stilhou, het ’n groepie mans die motor genader en onder meer twee handsakke gegryp. Die klaer het hulle agterna gesit en een van die verdagtes gevang. Op daardie oomblik het ’n polisiemotor verbygery en die klaer het die verdagte aan die polisie oorhandig. Die beamptes het hulp ontbied en die klaer na die polisiekantoor verwys,” sê Adonis.

Die Bishop Lavis-polisie het dadelik aan die werk gespring en inligting opgevolg.

“Hierdie inligting het hulle na die middestad gelei, waar die verdagtes probeer het om van die gesteelde goedere te verkoop.

“By die taxi-staanplek het een van die beamptes een van die verdagtes herken, maar toe hulle nader beweeg, het die verdagte probeer om in ’n taxi te vlug.

“Die polisie het die voertuig verhinder om verder te ry en toe hulle in die taxi kyk, was al vier verdagtes daarin. Die polisie het ’n bedrag van R7 640, twee skootrekenaars, twee selfone, ’n rybewys en die bankkaarte van die slagoffers by die verdagtes gevind,” sê Adonis. Die verdagtes het reeds in die hof verskyn.

Adonis sê die polisiekantoor is trots op die beamptes wat so vinnig die verdagtes opgespoor het.

“Soms word die polisie net beledig, maar hierdie is weer ’n bewys dat as die gemeenskap saam met die polisie werk, kan misdaad ’n groot knou toegedien word. Ek wil ook weer ’n beroep doen op mense om nie hul besittings oop en bloot in motors te los nie. Dit maak hulle sagte teikens vir misdadigers.

“In hierdie geval het dinge goed uitgewerk, maar dit is nie raadsaam om agter misdadigers aan te hardloop nie. Hulle kan gewapen wees en kan bereid wees om moord te pleeg as hulle vasgekeer word. Gaan eerder na die naaste polisiekantoor,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article