Dit is met belangstelling en nuuskierigheid dat ek die bydraes onder “Kaap van bloed” in laasweek se TygerBurger gelees het.
Ek haal my hoed af vir die bydraes en juig so luid ek kan vir die betrokkenheid en raad wat aangebied word.
Ek kan nie anders as om in sommige gevalle te dink dat ons oplossings het vir simptome en nie vir oorsake nie.
Ek is betrokke by sekuriteitsforums en doen aktiewe patrollies in die sakekern en woongebiede in my omgewing en het gereeld te doen met wetteloosheid (en soms ook met misdadigheid).
Ek is van die opinie dat, as daar geen gevolge is vir oortredings nie, daar geen verandering sal wees nie. Dit is reg en prysenswaardig om met die jeug te werk, die kerke betrokke te kry, asook al die organisasies wat bystand bied aan hawelose mense. Ek is egter van die opinie dat hierdie aksies met die grensgevalle tussen wetsgehoorsaamheid en wetteloosheid werk en dat voorkoming beter is as genesing. Maar die geharde misdadiger, die leermeester van die diegene wat neig na misdadigheid, moet boet vir sy (of haar) dade en die gevolge dra van sy of haar aksies, om ook as afskrikmiddel vir die gretige leerders en volgers te dien.
Die man in die straat (en diegene wat patrollies doen vir sekuriteitsforums) het geen magte nie; hulle is ten beste die “oë en ore” van die gemeenskap wat hulle dien.
Ons moet meer verwag van ons plaaslike geregsdienaars en wetstoepassers om hulle magte te gebruik om behoorlike ondersoeke te doen en te verseker dat diegene wat hul tyd buite die reg deurbring, die prys betaal deur skuldigbevindings in howe en die pyn van misdadigheid aan hul bas te voel. Dit vra egter die toewyding en samewerking van die vervolgingsgesag, die howe en korrektiewe dienste wat ooglopend nie tans in staat is om hul mandate te eerbiedig nie.
Weer eens, bravo! vir die wat alreeds hul beskeie deel bydra.
Andrew Greeff, E-pos





