Die brandbestryders nadat hulle oor die eindstreep gedraf het.

Credit: SYSTEM

Jermaine Carelse en Renaldo Duncan het die afgelope naweek die Twee Oseane-halfmarathon in hul brandweeruitrustings aangedurf om ondersteuning (en skenkings) vir die Volunteer Wildfire Service (VWS) aan te moedig.

Dit is die tweede keer dat die twee brandbestryders die Twee Oseane-halfmarathon in hul uitrustings aandurf.

Carelse is al 22 jaar ’n brandweerman en is ’n afdelingsbevelvoerder by die Goodwood-brandweerstasie.

Duncan is al 13 jaar in die brandweerdiens en is tans by die Sir Lowry’spas-brandweerstasie gebaseer.

“Ons in die brandweerdiens hou daarvan om mekaar uit te daag, en dit is waar die idee ontstaan het om die halfmarathon in brandweerdrag te hardloop – om iets te doen wat niemand anders, of beslis nie baie mense, sou doen nie,” het Carelse gesê.

Jermaine Carelse en Renaldo Duncan in die brandweeruitrus-tings waarin hulle die Twee Oseane-halfmarathon aangedurf het.

Op ’n vraag oor die laaste halfmarathon wat die brandbestryders voltooi het, het Carelse aan die TygerBurger gesê dit was nogal ’n belewenis.

“Ek dink baie mense was verbaas dat ons in ons brandweeruitrustings gehardloop het. Dit weeg tussen vyf en ses kilogram. Ek dink die voltooiing van die halfmarathon was nogal opwindend, maar ook nogal vermoeiend,” sê hy.

Carelse het bygevoeg dat hy in 2017 in ’n tyd van 2:34:35 klaargemaak het. Renaldo se tyd was 2:47:13.

Die doel was om Sondag se Twee Oseane-halfmarathon in 02:40 of vinniger te voltooi en om geld vir die Volunteer Wildfire Service in te samel.

Maar Carelse en Duncan het die wedloop saam nie-amptelik in 2:41:58 voltooi.

Toewyding en uithouvermoë

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, het Jermaine en Renaldo alle sterkte toegewens vir hul avontuur.

“Ons veiligheids- en sekerheidspersoneellede doen soveel om ons trots te maak. Dit is maar die jongste voorbeeld van individue wat verder gaan, en vir só ’n goeie doel om te begin,” het Smith gesê.

Smith voeg by dat dit ’n wonderlike voorbeeld was, wat die respek van almal verdien het.

“Hulle het die toewyding en uithouvermoë getoon van wat dit werklik beteken om ’n brandweerman te wees.

“Ek wil ook die publiek aanmoedig om, wat hulle kan, aan die Volunteer Wildfire Service te skenk, want hulle doen goeie werk.

“Die VWS het bevestig dat die brandbestryders altesaam R28 400 ingesamel het,” verklap Carelse.

“Die VWS is ’n ongelooflike vennoot vir die verskillende brandbestrydingsagentskappe, en elke bietjie help om hulle paraat te hou vir wanneer ons hulle die nodigste het,” het Smith gesê.

  • Skenkings aan die VWS kan direk gemaak word via www.vws.org.za of op Facebook by https://www.facebook.com/VolunteerWildfireServices.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article