Die gemeenskap van Greenville in Fisantekraal buite Durbanville is in rou nadat twee seuns, onderskeidelik vier en 11 jaar oud, Vrydagnag in hul ouma se huis doodgebrand het.
‘n Derde kind, ‘n meisie, is uit die brandende huis in Kameeldriftstraat gered nadat ‘n inwoner die voordeur met ‘n byl oopgekap het. Sy het glo reg by die voordeur gesit en ‘n lid van die gemeenskap het haar uit die brandende huis na buite getrek. Sy is na die hospitaal geneem vir behandeling.
In nog ‘n brand die afgelope naweek het drie kinders doodgebrand in ‘n informele huis in Lwandle in die Strand. Drie kinders, onderskeidelik nege, 12 en 13 jaar oud, het in die brand Saterdagaand gesterf.
Kinders se gille
Volgens ‘n video op sosiale media het die inwoners van Greenville reageer op die gille van die kinders, wat glo alleen by die huis was. Die brand was egter buite beheer nadat die voordeur oopgebreek is, en die ander twee kinders kon nie gered word nie.
Ouers platgeslaan
Elizabeth Maans, ‘n gemeenskapsleier en koördineerder van die polisie se slagofferondersteuningsprogram, was kort daarna op die toneel. Volgens Maans het die ouma se kleinkinders by haar gekuier maar moes sy dringend iemand wat in kraam was, na die Karl Bremer-hospitaal neem. Sy was glo op pad terug, skaars vyf minute weg van haar huis, toe sy die nuus van die brand kry.
Daar was glo ‘n verwarmer in die huis aan.
“Dit is baie seer. Ek ken beide die kinders se ouers; hulle is platgeslaan. Dit was hartverskeurend om hulle net daar te sien staan. Die vierjarige seun se ma was oorweldig met hartseer en wou net in die huis ingaan om te sien of dit regtig haar kind is. Maar sy sou nie haar kind kon herken nie.
“Om haar so te sien ly en die seer in haar oë te sien, was baie hartseer. Ek was self baie getraumatiseer; dis baie moeilik maar mens moet sterk wees vir die familielede,” het Maans aan TygerBurger gesê.
Geregtelike ondersoek
Sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, het in ‘n mediaverklaring gesê die oorsaak van die brand is nog onbekend en dit word deur die Durbanville-polisie ondersoek as deel van die geregtelike ondersoek.
Volgens Michael Abrahams, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, het die brand Vrydag omstreeks 23:51 uitgebreek.
Brandweerspanne van Kraaifontein, Durbanville en Bellville was op die toneel om die brand te blus. Die kinders se liggame is gevind nadat die brand geblus is.
ALSO READ: Mother dies in house fire on eve of son’s 20th birthday



