Ná ’n stilte van meer as twee jaar in redenaarskringe het Luané Conradie van die Laerskool Brackenfell vanjaar vlamgevat in die interskole-redenaarskompetisie en deurgedring na die nasionale eindronde, wat in September in Gauteng gehou word.
Die 11-jarige Brackie het al van kleins af haarself as ’n natuurlike spreker bewys en is drie jaar gelede deur Sias Janse van Vuuren, die skool se redenaarsafrigter, ontdek en onder sy vlerk geneem. Covid-19 het ongelukkig die vorige twee jaar feitlik alle redenaarsgeleenthede in die wiele gery voordat Janse van Vuuren aan die einde van 2021 daarin kon slaag om die skool se redenaarsklub weer aan die gang te kry.
Verskeie werksessies in die skryf, redigering, inoefening en praktiese wenke vir voorbereide, asook onvoorbereide toesprake, is gehou. Die pratertjies se harde werk is beloon met ’n suksesvolle seisoen, waarin die skool se Mikayla Visser en Christo de Wet saam met Conradie uitgeblink het in die plaaslike Oppie Tong Af- en ATKV-kompetisies.





