Die afdraai van die Klipheuwelpad in Lichtenburgpad (R312) is verlede Donderdag en Vrydag deur die polisie gesluit nadat betogers die pad voor Fisantekraal versper het.


Sowat 10 voertuie is in ’n klipgooiery beskadig en die Lichtenburgpad se oppervlakte voor Fisantekraal is in ’n protesaksie verlede week oor behuising beskadig.

Die Stad Kaapstad het verlede Donderdag toegegee aan die eise van inwoners van die informele nedersetting vir groter erwe as dié wat aanvanklik beplan is.

Die pad (R312) is verlede Donderdag en vir die grootste gedeelte van Vrydag voor Fisantekraal vir verkeer gesluit.

Talle pendelaars is verontrief en moes ompaaie werk toe ry, terwyl werkers in Fisantekraal vasgekeer was en nie na hul werkplekke kon gaan nie.

Geen voertuie kon ook in of uit Fisantekraal beweeg nie, omdat alle toegangspaaie gesluit was.

Op Facebook het dit gegons soos ontstoke werkgewers en werknemers hul sê gesê het.

’n Ongeluk by die brug op die Klipheuwelpad by Klipheuwel en die gevolglike sluit van een van die bane het verder tot die verkeerchaos bygedra.

Volgens kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, het die onrusstokers verlede Donderdag omstreeks 06:00 begin betoog oor behuisingskwessies.

Die groep van sowat 350 betogers het motorbande op die treinbrug op die Lichtenburgpad gebrand en die pad blokkeer.

“Geen voertuie kon deurgaan en polisiebeamptes en lede van Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement moes die verkeer na alternatiewe roetes herlei,” sê hy.

Omstreeks 13:00 het ’n groep van die betogers na Equi-Feeds in Fisantekraal gegaan en begin om voertuie daar met klippe te bestook, sê Rhode.

Die oproeriges is omstreeks 17:00 na die nuwe Greenville-woonbuurt en het leë huise begin vandaliseer. Baie van die nuwe huise se vensters en deure is verwoes, sê hy.

’n Klagte van openbare geweld is aanhangig gemaak. Die protes is verlede Vrydag voortgesit en motorbande is in Fisantekraal aan die brand gesteek.

Die protes is verlede Vrydag voortgesit en motorbande is in Fisantekraal aan die brand gesteek.

Die inwoners is gedreig om nie na hul werkplekke te gaan nie.

Nog ’n klagte van openbare geweld is aanhangig gemaak en sowat 16 betogers is in hegtenis geneem. Die protesaksie is teen 15:00 in bedwang gebring, sê Rhode.

Die betogers het Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn.

By navraag aan Stad Kaapstad het ’n woordvoerder van die Stad laat blyk die griewe gaan oor die Greenville Upgrading of Informal Settlements Programme (UISP) – die verbetering van die informele nedersetting wat op stadsgrond geleë is. Sowat 2 400 mense bly tans daar in informele strukture.

Altesame 966 van die inwoners kwalifiseer vir gedienste erwe met ’n sementblad. Die erwe gaan van water- en sanitasiegeriewe, asook elektrisiteit, voorsien word. Die begunstigdes moet dan self die topstrukture bou met subsidies wat deur die nasionale regering verskaf word.

Volgens die Stad het geen konstruksie nog begin nie en is die projek nou eers in ’n fase van beplanning, ontwerp en die aanwys van kontrakteurs.

Die Stad het reeds basiese stormwaterinfrastruktuur opgerig en toegangspaaie en voetpaaie geplavei vir veiligheid en beter toegang vir basiese en nooddienste. Volgens die Stad se verklaring word dié dienste deur die groeiende nedersetting aan bande gelê.

Die inwoners het geëis dat hul huise van 42 m² op hul erwe kan bou, pleks van die 40 m²-huise wat die Stad beplan.

“Dit het ’n koste-implikasie van meer as die nasionale regering se huidige subsidie. Die Stad is besig om met die inwoners te kommunikeer oor die pad vorentoe,” lui die verklaring.

Volgens Ruan Beneke, raadslid vir Wyk 105 (wat Fisantekraal insluit), is daar verlede Donderdag besluit dat die topstrukture wel vergroot word.

Hy het Vrydagoggend saam met ’n pantservoertuig na die ontstoke inwoners gegaan en hulle ingelig oor die besluit.

Volgens Beneke is daar by die nasionale regering aansoek vir meer fondse gedoen en is dit reeds toegestaan.

Beneke het gesê die inwoners was ook ontevrede omdat siviele dienste vir die projek nog nie begin het nie.

Hy sou gister ’n opvolgvergadering met die inwoners hê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article