Angeliena, ’n Suid-Afrikaanse fliek oor ’n vrou wat haar drome volg, is onlangs vir sewe pryse by die African Movie Academy Awards (Amaa) genomineer.
Die fliek, wat tans op Netflix wys, is deur die Kaapse produksiehuis Towerkop Creations gemaak.
In die fliek droom Angeliena, ’n motorwag, van ’n beter en opwindende toekoms, maar slegte nuus kelder haar ideale – totdat sy ’n onverwagse plan maak.
Die Amaa-pryse is verlede maand in Nigerië oorhandig en die fliek is onder meer vir beste regisseur en beste aktrise in ’n hoofrol genomineer.
Morag Steyn het die fliek se enigste prys gewen, vir beste grimeringsontwerp.
Uga Carlini, hoof van Towerkop Creations, kom oorspronklik van Bellville en was in die Laerskool Totius en Hoërskool D.F. Malan. Sy is ekstaties oor die fliek se prestasies, sê sy.
“Die pryse verteenwoordig die room van die Afrika-vasteland se filmmakers,” sê sy.
“Die feit dat ons sewe nominasies gekry het, was alreeds ’n reusewen vir my en ons span.”
Angeliena se pad
Sy sê sy het die idee vir die fliek gekry toe haar eksman in 2011 vir haar ’n berig wys oor ’n karwag wat vir jare nooit ’n dag se werk gemis het nie en toe skielik nie by die werk opgedaag het nie. Met haar eerste ruwe teks het sy finansiering gekry om die fliek later verder te vat.
Ander projekte het haar egter besig gehou. Sy het onder meer die dokumentêre fliek Alison oor Alison Botha se lewe gemaak en bekend gestel.
Botha se grustorie oor hoe sy telkemale met ’n mes gesteek, verkrag is en toe vir dood gelaat is, laat al vir jare mense se nekhare rys. Carlini het ook ’n kortfliek, Good planets are hard to find, gemaak wat handel oor die storie van Elizabeth Klarer, ’n Suid-Afrikaanse vrou wat dikwels vertel het hoe sy deur ruimtewesens besoek is.
Covid-19
In 2018 het sy weer voltyds aan Angeliena begin werk en skielik het alles momentum gekry. Sy is selfs deur Netflix na Los Angeles gevlieg waar hulle ’n “10-minuut lange vergadering” gehad het en lemoensap gedrink het.
Teëspoed het egter met Covid-19 getref. “Dit was so moeilik. Ons het so baie uitdagings gehad,” sê sy. Hul piepklein begroting moes nog meer gerek word om al die Covid-protokol na te kom.
Ten spyte hiervan het hulle in Desember 2020 die fliek begin skiet en aan die einde van Januarie die volgende jaar klaargemaak.
Angeliena is in die suidelike voorstede van Kaapstad geskiet. Carlini, wat in Vishoek bly en werk, kon elke oggend sommer uit die bed in haar rol en by die stel wees, wat beslis ’n bonus was, sê sy skertsend.
Huldeblyk
Angeliena het ook vanjaar by ander prysuitdelingsgeleenthede uitgeblink.
Carlini self is by die Writer’s Guild of South Africa’s Muse-toekennings vir die fliek se draaiboek genomineer.
By die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisietoekennings het Tshamano Sebe die prys vir beste akteur in ’n ondersteunende rol opgeraap en Charl-Johan Lingenfelder is genomineer in die kategorie vir beste temamusiek.
Die fliek is vir haar ’n huldeblyk aan Suid-Afrika en die mense van die Skiereiland, oor wie sy dol is.





