Haweloses wat naby Huis Uitsig vir bejaardes hul nes gemaak het, pla inwoners daar, veral wanneer vure aangesteek word.
Die organisasie sonder winsbejag is geleë in M.E. Rothmanstraat in Parow-Noord – enkele meters van die De Grendel-treinstasie, waar haweloses gereeld uithang.
Wandré Hattingh, bestuurder, sê klagtes is al by die plaaslike wyksraadslid aangemeld, en daar is verskeie kere met die Stad Kaapstad se wetstoepassingsafdeling oor die probleem gekommunikeer. Die tehuis is tans in die proses om C3-kennisgewings by die Stad in te dien.
Huis Uitsig is een van Badisa se grootste tehuise vir bejaardes met ongeveer 220 inwoners, van wie 70% hoësorg benodig.
Talle klagtes al aangemeld
Hattingh sê talle versoeke is reeds aan die Stad gerig rakende die probleem, maar hulle het glo nog geen terugvoering ontvang nie.
“Die higiëne en menslike ontlasting teen ons mure hou ’n groot gesondheidsrisiko in en lok pessiektes en rotte aangesien daar geen rioolfasiliteite vir hulle is nie. Dit veroorsaak dat ons elke maand duisende rande moet spandeer om gif te spuit en plaagbestryding te doen. Om nie eens te praat van die bakleiery in die nagtelike en oggendure, wat die bejaardes verbouereerd maak nie.
“Die haweloses vloek, skreeu en skel en daar is dikwels ’n messtekery. Hulle maak vuur, letterlik ’n paar meter van die tehuis se gas-installasie af.
“Die versorgings- en mediese afdeling is aangrensend aan dié gebied waar die haweloses hul tuiste gemaak het. Die inwoners het al menige kere kom kla en, so graag as wat ons wil help, is ons hande afgekap. Tot die brandweer trek die skouers op as daar geskakel word wanneer hulle vuurmaak,” sê Hattingh.
Hy meen die probleem word vererger deur inwoners wat kos en ander produkte aan die haweloses voorsien.
“Ons is moedeloos.”
Pogings is aangewend
TygerBurger het verlede week met Roger Cannon, wyksraadslid, vergader om oor die kwessie te gesels.
Cannon het erken hy weet van die haweloses en die probleem in dié gebied.
Hy het ook genoem dat die haweloses al ’n geruime tyd daar is en dat pogings aangewend is om hulle te verwyder, maar dat dié proses nie maklik is nie.
“Daar was eers net haweloses, maar die groep het gegroei en daar is ook nou misdadige karakters tussenin. Sommige van die groep se lede is jongmense.”
Hy het bevestig dat die tehuis bekommerd is oor die groep en dat daar ook pogings deur die plaaslike buurtwag aangewend is om hulle te verwyder.
“Maar daar is ’n proses om mense te verwyder wat gevolg moet word, soos almal weet.”
Hy het dit as ’n hartseersituasie bestempel.
“Ons het al C3-kennisgewings ingedien om hulle te verwyder – elke week. Hoe meer kennisgewings ingedien word, hoe ernstiger word die kwessie geag,” sê Cannon.
Hattingh meen die groep se gedrag en optrede word as mishandeling van ouer mense geag, met inagneming van die emosionele uitwerking wat dit op die inwoners en ook die personeel het.
“Potensiële kliënte word afgeskrik en vind hul heenkome elders, dus verloor die tehuis geld, waarmee ons reken om voldoende dienste aan die behoeftige oumense te verskaf,” sê Hattingh.





