Skaars ’n jaar nadat hy as stasiebevelvoerder van die Bellville-Suid-polisiekantoor aangestel is, is lt.kol. Johannes Erwee op Vrydag 13 September deur die Stad Kaapstad-distrik as Stasiebevelvoerder van die Jaar aangewys.
“Sjoe! Dit was die laaste ding wat ek verwag het. Dit het my ’n oomblik geneem om dit te besef toe hulle my naam aankondig. Ek wonder toe: ‘Het ek reg gehoor’?”
Só vertel Erwee aan TygerBurger uit sy kantoor in Kasselsvleiweg.
Die beste stasiebevelvoerder word aangewys op verskeie vlakke van die Stad Kaapstad se polisierangstasies, naamlik kaptein-, luitenant-kolonel-, kolonel- en brigadier-rangstasies.
Erwee het dus as die beste bevelvoerder van ’n luitenant-kolonel-rangstasie in die distrik uitgeblink.
David Sias, voorsitter van Bellville-Suid-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het op hul Facebook-blad met groot lof vir Erwee met sy prestasie gelukgewens: “Hierdie toekennings beklemtoon die onvermoeide pogings van die mans en vroue in die polisiediens en GPF’s, wat toon dat uitnemendheid wel bestaan – selfs onder die mees uitdagende omstandighede.”
Verhoudings
Erwee toon goeie begrip vir die nood van Bellville-Suid se misdaadvoorkoming, sowel as hartlike waardering teenoor die gemeenskap en sy mede-rolspelers.
“Bellville-Suid deel ’n ongelooflik goeie verhouding met Belhar-polisie, sowel as Bellville- en Ravensmead-polisiekantore. Ons maak gereeld op mekaar staat en deel onder mekaar hulpbronne om misdaad saam te bekamp. Ek is ewe dankbaar teenoor die Bellville-Suid GPF – hulle bied my wonderlike bystand en pligsgetroue ondersteuning.”
- Brigadier: Brig Mark Hartzenberg (Gangsterism to be tackled)
- Colonel: Col. Hannes Steenkam (Steenberg police station commander honoured as top leader in Western Cape)
- Lieutenant Colonel: Lt. Col. Hannes Erwee (Bellville-Suid spog met die beste stasiebevelvoerder)
- Officers: 25 Nyanga Police Station officers receive awards for tireless efforts
Heel beskeie bieg Erwee dat moord-, huisbraak-, aanrandingsake en misdaad oor die algemeen die afgelope jaar afgeneem het.
“Dit volg nadat ’n paar moorde in Desember en Januarie in verband met bendegeweld vanjaar die gemeenskap geruk het. Bellville-Suid-polisie was toe behoorlik besig en het ’n paar mense in hegtenis geneem. Die sake draai nou in die hof, maar sedert hulle aangekeer is, is die orde wesenlik herstel.”
Erwee het op Maandag 9 Januarie verlede jaar as kaptein by Bellville-Suid-polisiekantoor aangekom.
Hy is nie lank daarna nie as bevelvoerder aangestel toe hy in Desember tot die rang van luitenant-kolonel bevorder is.
Dit volg sowat 37 jaar nadat hy as jongman sy swart stewels as polisieman ingetrap het.
“Ek was ’n student by die Gordonsbaai-polisiekantoor, waarna ek in Pretoria my opleiding by die polisiekollege voltooi het. Vandaar was ek in Parkview, Johannesburg gestasioneer, en mettertyd weer terug tot in die Wes-Kaap verplaas – eers in Grabouw vir so twee tot drie maande, toe na Bellville in 1992.”
Erwee is in 2005 tot kaptein bevorder en het sowat 17 jaar by Bishop Lavis-polisiekantoor as skofbevelvoerder gedien.





