Adjudant-offisier Jacques Stander van Bellville-polisie.

Bellville-polisielid mik raak en stap met goud weg


Wat 15 jaar gelede as ‘n prettige tydverdryf in ‘n motorhuis begin het, het vir adjudant-offisier Jacques Stander van die Bellville-polisie in ‘n suksesvolle veerpyltjieloopbaan ontaard.

Stander, wat in Bellville gebore is, het vanjaar verskeie medaljes op nasionale vlak ingepalm en is weer gekies om die polisie se nasionale-span in 2027 te verteenwoordig.

Hy het in September aan die korporatiewe veerpyltjiekampioenskap in Germiston, Gauteng, deelgeneem, waar hy van 14 tot 18 September goud in sowel die enkelspel as die dubbelspel verower het.

Die nasionale polisiespan het ook onoorwonne gebly en goud in die spankompetisie ingepalm.

Nog medaljes vir Stander

Sy sukses het in Oktober voortgeduur toe hy die Wes-Kaap van 5 tot 9 Oktober by die nasionale polisiekampioenskap in die Paarl verteenwoordig het. Daar het hy goud in die enkelspel en silwer in die dubbelspel verower.

Die Wes-Kaapse span het ook onoorwonne geëindig en goud in die spankompetisie gewen.

Stander is intussen weer vir die nasionale polisie se korporatiewe span gekies, wat in 2027 in Pretoria sal deelneem.

Hy het vroeër vanjaar, van 13 tot 17 Julie, ook aan die Darts South Africa se nasionale kampioenskap by die Bellville-velodroom deelgeneem, waar sy span vierde in die topafdeling geëindig het.

Van motorhuis tot nasionale verhoog

Stander speel reeds 15 jaar veerpyltjies en is buite sy polisieverpligtinge lid van die Dockside-veerpyltjieklub.

Sy liefde vir die sport het begin toe hulle ‘n veerpyltjiebord in ‘n motorhuis opgehang en bloot vir die pret begin speel het. “Toe byt die gogga, en die res is geskiedenis,” vertel hy.

Die sport oor veel meer as net medaljes en kompetisies. “Ek is lief vir die sport omdat jy soveel verskillende mense ontmoet en ongelooflike vriendskappe bou wat ‘n leeftyd hou.

“Dit vat jou gedagtes weg van werk en probleme sodra jy begin speel.”

Hy sê veerpyltjies verg net soveel toewyding en oefening as enige ander sportsoort. “Jy moet ure insit met oefening, anders gaan jy nie beter raak nie.”

Een aanhaling wat hom telkens motiveer voordat hy speel, is: “Every day, in every way, I’m getting better and better.”

Met nog ‘n nasionale toernooi wat in 2027 voorlê, bly dit die woorde waarmee Stander homself aanspoor om aan te hou verbeter.

LEES OOK: WATCH | Fanciers fly high at Mitchells Plain Legacy Race

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article