Die Laerskool Bellville-Noord se rugbyspelers het Saterdag 16 Mei die pragtige Riebeek-Kasteel besoek vir ‘n opwindende sportbyeenkoms — en sommige spanne het die gasheerspanne goed laat sweet.
Die o.11-spanne was beslis die sterre van die dag. Die o.11B-span het ‘n indrukwekkende vertoning gelewer deur al drie sy wedstryde te wen, terwyl die o.11A-span nog ‘n tree verder gegaan het met ‘n ongehoorde vier uit vier oorwinnings. Dié jong Meerkatte het bewys dat Bellville-Noord ‘n krag is waarmee rekening gehou moet word.
Die o.13A-span het ook goed gevaar deur twee van sy vier wedstryde te wen. Die o.9’s en o.13B’s het ‘n moeilike dag op die sportveld beleef en kon nie die plaaslike Riebeek-Kasteel-spanne klop nie — die plattelandse seuns het hulle met vernuf gewys hoe die spel gespeel word.

Ondanks die gemengde uitslae was die dag ‘n onvergeetlike belewenis vir almal betrokke. ” ‘n Pragtige, sonnige herfsdag in die hartjie van die Swartland het die perfekte agtergrond geskep vir ‘n dag vol sport, kameraadskap en pret. Ouers, personeel en leerders — die Bellville-Noord Meerkatte in alle gedaantes — het die rustige atmosfeer van Riebeek-Kasteel terdeë geniet,” se Corné Lötter, onderwyser by die skool.
LEES OOK: Laerskool Bellville-Noord se eerste rugbydag groot sukses
Die skool bedank alle spelers vir hul harde werk en sportmanskap, en sien uit na die volgende geleentheid om die Meerkat-naam hoog te hou.





