Dis weer tyd vir die Tygerberg-sakekamer se immergewilde potjiekoskompetiesie waar plaaslike sakelui mekaar in goeie gees die stryd om die titel as potmeester aansê.

Dié geleentheid, ‘n jaarlikse hoogtepunt wat nou in sy 10de jaar is, word op Vrydag 6 Maart by die Hoërskool Stellenberg aangebied. ‘n Ensamble bekendes sal vanjaar se beoordel behartig.

“Ons gaan groot hierdie jaar met ‘n hele klomp bekende beoordelaars,” sê Marina van der Meulen van die sakekamer. “Die beoordelaars is bekende in koskringe – Marinda Engelbrecht; Margit Meyer Rodenbeck, wat geen bekendstelling nodig het nie; die bekende akteur Stian Bam; die geliefde sangeres Andriette Norman; en die bekende Peer Papsak van Bokradio.”

Die seremoniemeester vir die dag is die alombekende Pedro Kruger, wat al die deelnemers sal bekendstel en gelukkigstrekkings deur die loop van die middag sal aankondig.

Van die lekkerste potte nóg is by verlede jaar se kompetisie opgedis, sê die organiseerders, wat vanjaar weer watertandresepte verwag. Die potte begin om 13:00 prut met hope gees en pret deur die loop van die middag. Die spanne kan meeding om as die kampioene in die witvleispot-, rooivleispot-, beste potpoeding- en beste gees-afdelings aangewys te word.

Die hoofborg vir die geleeentheid is TJ’S Lekka Braai met ‘n groot verskeidenheid medeborge soos Leopards Leap, Checkers, Food Lovers Market , Lily@Co en District Technical Solutions.

* Kontak Marina by admin@tygerbergbc.co.za vir ‘n inskrywingsvorm. Slegs ‘n beperkte aantal potte kan ingeskryf word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article