Ná ’n aanval op ’n bejaarde man in Peerlesspark-Noord is ander bejaarde inwoners in die gebied nou vreesbevange.
’n Man (82) is Donderdag omstreeks 10:00 deur drie onbekende mans in sy motorhuis in Duifstraat oorval en beroof.
Sy aanvallers het hom met sy eie graaf oor die kop geslaan. Hy het ligte kopbeserings opgedoen en het mediese behandeling ontvang.
“Hy het met sy rug na die deur toe gestaan en dus nie gesien toe die mans inkom nie.
“Hulle het hom platgetrek voordat hulle hom oor die kop geslaan het,” sê ’n woordvoerder van die Kraaifontein-polisie.
Die mans het op die vlug geslaan met drie bore van altesame R2 000.
’n Nabye inwoner, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê daar was die afgelope tyd baie aanvalle op inwoners van die buurt.
Volgens haar was daar al sowat twee ander aanvalle die afgelope maand. ’n Man is van sy selfoon en bakkiesleutels beroof en ’n ander voor sy huis toe hy sy kar uittrek.
“Hulle het hom omtrent verniel en dit maak ons bang. Dit is baie erg hier by ons die laaste tyd.
“Ek is ’n weduwee en is nou te bang om in my tuin te werk. Hier is baie afgetrede mense in die gebied wat lief is vir tuinmaak, maar hulle kan dit nie meer doen nie,” sê sy.





