‘n Ma van Happy Valley sê haar maand oue kind sou nog gelewe het as ‘n ambulans hulle net betyds kon bereik of die polisie hulle dadelik hospitaal toe geneem het toe hulle daar om hulp aangeklop het.
Jasmine Josephs se babadogter, May-Lynn Josephs, het Maandagoggend siek geword en haar bekommerde ouers wou haar so gou moontlik by ‘n dokter of hospitaal kry. Hul oproepe na die ambulansdiens was egter te vergeefs, want buite het betogers klippe gegooi en buitebande gebrand. Volgens berigte is daar ook op die onluste-polisie geskiet.
Die betogers het verhoed dat enigiemand, insluitende ambulansdienste, in Happy Valley kon kom en Josephs-hulle moes ‘n desperate stap neem.
In die duisternis het die bekommerde ouers besluit om die enigste ding te doen wat hulle gedink het hul kind se lewe kan red – om met die baba na die Mfuleni-polisiestasie te stap.
“Toe ons daar kom, het ek weer die ambulans gebel om te sê ons wag by die polisiestasie. Ons het gevra of een van die beamptes ons nie hospitaal toe kan neem nie, maar is vertel dat hulle nie babas mag wegneem nie. Ons het vir so ‘n uur gewag en toe begin ek traangas ruik en my neus begin brand. Die gas het so dik soos mis gehang en ek kon sien my kind raak al swakker,” sê Josephs.
Josephs se kêrel en die baba se pa, Manuel Willemse, het histeries begin raak en dis toe dat ‘n beampte besluit daar moet dadelik ‘n bakkie beskikbaar gemaak word om hulle hospitaal toe te neem. “Ons was by die polisiestasie vanaf 06:30 tot so net voor 08:00. By die hospitaal het die dokters gesukkel en na ‘n ruk het hulle kom sê dat sy nie meer met ons is nie,” sê die bedroefde Josephs.
Sy sê sy is kwaad omdat die polisie hulle nie dadelik gehelp het nie. “As die ambulans nie kon deurkom nie, kon my swaer of my bure ons wegneem, maar dit was onmoontlik. As die patetiese polisie ons ook net weggeneem het toe ons daar kom, kon dinge soveel anders gewees het,” sê sy.
Lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê enige bewering dat ‘n kind weens die betoging of traangas gesterf het, is ongegrond. “Die inligting tot ons beskikking dui daarop dat die beamptes die ouers en die kind tussen 06:00 en 07:00 na die Eersterivier-hospitaal geneem het, waar sy behandeling ontvang het. Nooddienste kon nie in die omgewing kom nie en dit is hoekom die polisie die ouers en die kind gehelp het,” se Pojie by navraag.
Volgens hom is ‘n saak van openbare geweld by die Mfuleni-polisie aanhangig gemaak en is twee volwasse mans is weens openbare geweld in hegtenis geneem.
Die protesaksie vroeg Maandagoggend het gelei tot grootskaalse verkeersontwrigting in buurte soos Blackheath, Blue Downs en Silversands. So erg was die ontwrigting dat die Blue Downs-hof ook vir die dag toegemaak het. Op video’s wat op sosiale media die ronde doen, kan gesien word hoe woedende betogers buitebande brand en klippe na verbygaande voertuie en die polisie gooi. Ten minste een bron met wie TygerBurger gepraat het, beweer dat betogers op die polisie geskiet het en hulle teruggeskiet het.
Wat tot die betogings gelei het en hoekom dit gewelddadig was, is nie heeltemal seker nie, maar TygerBurger het ‘n plakkaat gesien waarop die plaaslike SANCO-tak, die sogenaamde Rose Sonto-tak, inwoners van Happy Valley nooi na ‘n “vreedsame” optog Maandag. Uit die skrywe op die plakkaat is dit nie duidelik waaroor die betoging gaan nie, maar volgens inwoners met wie TygerBurger gepraat het was dit oor diensleweringsprobleme. TygerBurger het ‘n WhatsApp-boodskap na een van die kontakpersone op die plakkaat, ene Martha Damas, gestuur. Damas word as die ondervoorsitter van die tak aangedui en hoewel sy aanvanklik TygerBurger se boodskap beantwoord het, wou sy nie bevestig of sy die regte persoon is om mee te praat nie. ‘n Latere boodskap het onbeantwoord gebly.
Kariena Mare, plaaslike raadslid, het laat weet sy wag op die Stad Kaapstad se mediakantoor vir ‘n verklaring.
Intussen wag Josephs op die uitslag van die nadoodse ondersoek.





