Sonneblom-strategie help Hoërskool Blackheath se matriekslaagsyfer verbeter

’n Groepie van die Hoërskool Blackheath se “sonneblomme” by die ontvangs van hul matriekuitslae verlede maand.


Die Hoërskool Blackheath se matriekslaagsyfer het van 59% in 2021 en 68% in 2022 tot ’n merkwaardige 88% in 2023 verbeter.

Die getal leerders wat universiteitsvrystelling behaal het, het ook van 12% (2021) en 17% (2022) tot 44% toegeneem.

Antonio Michaels, skoolhoof, sê dit is te danke aan spanwerk -–almal, van die opsigters tot die tannie van die voedingskema wat gehelp kos maak het, het bygedra tot die verbetering.

Michaels, voorheen van die Hoërskool Robinvale in Atlantis, het op 1 April 2022 by Blackheath begin.

Die drie jaar tevore (2019 tot 2021) was die skool se matriekslaagsyfer rondom 55%.

Hoewel hy die slaagsyfer toeskryf aan spanwerk, sê Michaels dat hy by die skool begin het met ’n “geen-nonsens-benadering” waar teruggekeer moes word na die “basics”.

Hy verduidelik die onderwysers moes terugkeer na hul basiese taak van onderrig gee, die leerders na kindwees, en dat die ouers ook hul rol moet vervul.

Sonneblom-strategie

In September 2022 het Michaels sy “sonneblom-strategie” begin. Hy vertel dat hy met die leerders, toe in graad 11, begin gesels het oor die karaktereienskappe van die sonneblom wat altyd na die son draai, en blom ongeag waar dit geplant is.

“Hoekom die sonneblom?

“Sodat die kinders moet besef dit maak nie saak wat jou omstandighede by die huis is nie, as jy hard werk en jy doen jou deel, dan kan jy jou matrieksertifikaat kry.

“Dit het baie motivering gekos – vanaf van die personeel en vanaf die kinders.”

Michaels sê met sy aankoms by die skool was daar baie ongelukkigheid onder die personeel. Om die personeel gelukkig te kry, was sy eerste prioriteit, “want as die personeel gelukkig is, gaan hulle meer produktief wees”.

“Ek het altyd vir myself gesê, as ek glimlagte op die mense se gesigte sien by die skool, dan weet ek ons is op die regte pad.”

Gee water

Michaels het volgehou met sy sonneblom-strategie met die groep leerders in hul matriekjaar (2023).

“My hele motivering met hulle was: sonneblomme, sonneblomme …

“Ek het dit in die kinders se koppe probeer kry: dit maak nie saak wat daar buitekant gebeur nie, as jy wil blom soos ’n sonneblom, dan kan jy.“

Michaels sê hy het gereeld in sy gesprekke met die leerders die gelykenis van ’n tuinier gebruik wat moet water gee.

Voor die September-eksamen is ’n stuk grond by die skool waar daar gras was, skoongemaak sodat die leerders elkeen ’n sonneblom kon plant.

“Omdat elkeen ’n ‘sonneblom’ was, het ek voor die begin van die eksamen vir elkeen ’n saadjie in die hand gesit en vir hulle gesê: ‘Dit is doodeenvoudig; hierdie is jou saadjie en as jy wil hê jou sonneblom moet groei, dan moet jy seker maak jy gee dit wat dit nodig het’.”

Sy boodskap aan die leerders was dat hul sukses in hul eie hande lê.

Die onderwysers het gehelp om die grond voor te berei, maar om te verseker dat hulle groei en blom, was dit tyd vir water gee – om op die boeke te konsentreer, verduidelik hy.

Hy het die leerders ook genooi om ná die bekendmaking van die matriekuitslae terug te kom om te kom kyk hoe lyk hul sonneblomme.

“Ek het agterna sommer nog saadjies geplant net om seker te maak dat ons genoeg sonneblomme het wat sal groei,” bieg Michaels.

As ’n leerder laat by die skool sou aankom of ander uitdagings veroorsaak het, het hy die kind na die veld waar die saadjies geplant is, geneem.

“Ek sou vra: ‘Luister my kind, waar is jou sonneblom? Dit wat jy vandag doen – laat dit jou sonneblom groei of nie?’

‘’Dit het ’n merkwaardige verandering teweeg gebring, want ek kon sien die kinders het begin glo dat hulle kan slaag – en hulle het geleer.”

Uitdagings

Die skool het tans 910 leerders en bedien die omliggende gemeenskappe van Blackheath, Gaylee, Austinville, Mfuleni, en tot so ver as Khayelitsha en Stellenbosch.

Aan uitdagings is daar geen tekort nie. “Ja, daar is baie, soos maar by alle Kaapse Vlakte-skole, soos elemente wat daagliks by die skool kom en meeste oggende is daar gevalle van ons kinders wat beroof word op pad skool toe,’’ sê Michaels.

”Verlede jaar tydens die September-eksamen is een van ons kinders gekaap op pad huis toe ná ’n ekstra klas. Ons het ook ’n geval gehad waar een van ons graad 12-leerders ’n werker doodgesteek het.”

Michaels vertel hulle het met ekstra klasse van Maandag tot Donderdag ná skool begin. “Ek het gesê bywoning is verpligtend. As hulle dit nie bygewoon het nie, het ek dit die volgende dag opgevolg.

“Aangesien hulle die klasse bygewoon het, het ek vir hulle vervoer huis toe gereël en ons het vir hulle kos gegee.

“Dit was een van die voertuie wat een middag gekaap is. Gelukkig het geen kinders seergekry nie.”

Dissipline

Michaels sê Brandon Meyer was die leerder wat die grootste verbetering getoon het van graad 11 tot matriek.

Brandon vertel hy was maar altyd “spelerig” op skool. Hy het sy skoolwerk ernstiger begin opneem as gevolg van Michaels.

“Toe mister Michaels kom, het hy als ge-change. As jy gesukkel het, sou hy na jou toe kom en praat. Hy was baie helpful. Ek kon nie by die huis geleer het nie; my phone het my gepla. Toe het ek hom gevra of ek by die skool kan leer.”

Brandon vertel lank voor die eksamen was daar Saterdag-klasse wat almal moes bywoon. In eksamentye kon hy by die skool studeer, waar hy ook ’n maaltyd gekry het.

Hoewel hy nie heeltemal tevrede is met sy uitslae nie, het hy geslaag en werk hy nou aan ’n toekoms by wetstoepassing.

“Was dit nie vir mnr. Michaels nie, sou ek gedruip het. Ek het vir hom dankie gesê toe ek my results gaan haal het.

“Hy is ’n goeie hoof – die skool was bad voor hy gekom het.”

Dit was ook nie net Michaels se persoonlike aanslag om met die leerders te gesels nie, laat blyk Brandon: “Daar was dakke en goed wat gebreek was. Die skool lyk nou beter. Daar is baie discipline nou.”

Saam met die gelukwensings oor die uitslae op die skool se Facebook-blad het verskeie ouers hul trots en dank uitgespreek.

Tarren Loots het geskryf: “Dankie mnr. Michaels en personeel dat julle die verandering gebring het.”

“So trots op Hoërskool Blackheath. Dankie vir die toewyding en ’n groot dankie aan mnr. Michaels vir die veranderings wat u by ons skool gemaak het,” het Winnifred Lewis geskryf.

Horatia van Wyk het beaam: “Ja, hy is yster.”

Die Hoërskool Blackheath het verlede week by die Wes-Kaap se Nasionale Seniorsertifikaat-toekennings ook erkenning gekry vir die beste verbetering in die vakgemiddelde vir Engels Huistaal (vergeleke met 2022).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article