Ná maande van wag (en honderdduisende pannekoeke) het spesialiste in Amerika uiteindelik Vrydag op Markus du Plessis (3) geopereer.
Buiten ’n suksesvolle operasie het dokters boonop nog goeie nuus vir sy gesin gehad.
Markus ly aan serebrale verlamming en spesialiste kon al sy spastisiteit verwyder in plaas van die 70% waarop daar gehoop is. Hy gaan nou basies geen pyn hê, wat styfheid in sy spiere betref nie.
“Ons is so dankbaar dit het goed gegaan,” sê Sarisha, Markus se ma, opgewonde uit Amerika.
Markus se verhaal het wyd opslae gemaak nadat sy ouers pannekoekdeeg begin verkoop het om geld in te samel vir ’n operasie, wat net by een hospitaal in St. Louis in Amerika gedoen word.
Sarisha het voorheen vertel die siekte is op 14 maande by Markus gediagnoseer.
Dit veroorsaak onwillekeurige spierspasmas, verlamming en dikwels ongewenste bewegings.
Party lyers is lomp of kan nie hul hande doeltreffend gebruik nie. Ander het intellektuele probleme.
Sy het ná Markus se diagnose gehoor van dr. T.S. Park by die Center for Cebral Palsy Spasticity, wat bekend is vir sy operasie “selective dorsal rhizotomy” (SDR).
SDR help om kinders met serebrale verlamming meer beweeglik te maak. Dit beloof nie om kinders te laat loop nie, maar verhoog hul kanse en gee vir kinders ’n beter lewensgehalte.
Hoewel hulle geweet het van die operasie, het hulle egter gou agtergekom die koste om dit te laat doen (plus verblyf en reiskostes) is astronomies – sowat R1,5 miljoen.
Gou is Shake & Bake gebore. Sarisha, haar man Ryno en hul dogter Mila (6) se huis is in ’n pannekoekdeegfabriek omskep en hulle verkoop daagliks deeg in eenliterbottels teen R30 elk.
Met hierdie insameling en verskeie ander skenkings het die Du Plessis’s al R1,4 miljoen ingesamel.
Hulle het egter nou gehoor hulle het baie meer nodig as net die orige R100 000 van hul mikpunt, aangesien Markus ná sy terugkeer vir ses maande elke weeksdag fisio- en arbeidsterapie moet kry.
Hul mediese fonds dek slegs 10 sessies per jaar. “Ons gaan nou éérs pannekoekdeeg verkoop!” sê sy.
Hulle hoop steeds Markus sal kan loop of nader daaraan kan kom, maar daar is geen beloftes nie.
“Die toekoms is nog baie onseker, maar hierdie is die begin van groot dinge en ons is baie positief vir die nuwe hoofstuk wat voorlê,” sê Sarisha.
Die gesin kom op 22 Julie weer terug Suid-Afrika toe, aangesien Markus nog vir ’n rukkie terapie in Amerika moet voltooi. Die volle herstel van die operasie duur egter sowat twee maande.
Daar is nog pannekoekdeeg te koop. Kontak Jakkie by 072 507 8245 om te bestel. Die afhaalpunt is in Stellenberg.





