Die inbrekers moet eerder by die sirkus gaan aansluit, dan sal hulle meer geld maak, reken ‘n plaaslike raadslid nadat “akrobatiese” boewe onlangs by sy kantoor toegeslaan het.
Angus McKenzie, raadslid vir Bonteheuwel, sê die inbrekers se teiken was kringtelevisiekameras en elektriese infrastruktuur, maar hulle is op heter daad deur sekerheidswagte betrap waarna een van die verdagtes homself soos ‘n ware akrobaat tussen die heining en die muur gebalanseer het.
Kringtelevisie
Kringtelevisie wys hoe sekerheidswagte naarstigtelik probeer om een van die verdagtes te vang, maar hy met ‘n balanseertoertjie net buite hul bereik gebly. Uiteindelik kom hy weg deur terug oor die heining te spring waaroor hy aanvanklik geklim het.
McKenzie sê tong in die kies die verdagtes het “‘n oudisie op ons elektriese infrastruktuur afgelê.
“Om eerlik te wees, die vaardighede wat ten toon gestel is, is indrukwekkend. Die spoed, veerkragtigheid, kloutervaardighede, balans en akrobatiese vermoë sou ‘n staande applous onder ‘n tent ontvang het. Ongelukkig het hulle besluit om nie by die sirkus aan te sluit nie, maar die minder glansryke beroep gekies om belangrike infrastruktuur te vandaliseer,” sê McKenzie.
Onderbreek
Volgens hom het die vinnige reaksie die verdagtes onderbreek voor hulle meer skade kon aanrig. “Die voorval het so vinnig gebeur dat die verdagtes weggekom het voor hulle gevang kon word. Miskien kan ons met die publiek se hulp verseker dat hul volgende vertoning in die hof is,” sê hy.
Hy doen ‘n beroep op die publiek om na die kringtelevisie-video te kyk en as iemand die verdagtes herken ‘n anonieme boodskap na 082 444 1850 te stuur.
Teen druktyd is niemand nog weens die voorval in hegtenis geneem nie.
LEES OOK: Een dood in beweerde vergeldingsaanval in Bonteheuwel





