Verskerpte verkeerswetstoepassing is bitter nodig om die talle spoedvrate en dronkbestuurders op Kraaifontein se paaie vas te vat.
So meen Rheinhardt Bresler, wykraadslid vir Wyk 102 en lid van die Stad Kaapstad se portefeuljekomitee vir veiligheid en sekuriteit.
Op ‘n Subraad 2-vergadering verlede week het Bresler ‘n ontleding van spoedvervolging in dié gebied van die Stad Kaapstad se verkeersdepartement versoek.
Volgens Bresler is daar weinig spoedoortredings vir Kraaifontein se Wyk 102 op die Stad se maandelikse verkeersverslag aangedui.
“Ek is die laaste paar maande oorval met klagtes van inwoners met betrekking tot spoed en dronkbestuur. Dit strook nie met die syfers in die verslag nie. Daar moet vasgestel word waar die brandpunte in die gebiede is sodat maatreëls ingestel kan word om die oortredings te bekamp,” het hy op die vergadering gesê.
Hy het ook gemeld dat meer gereelde padblokkades in die hele Subraad 2, wat ook Brackenfell insluit, nodig is om dronkbestuurders vas te trek.
Bresler sê spoedoortredings is ‘n probleem, veral op plaaslike hoofpaaie soos Brighton- en Darwinweg. Ook in Okavangoweg jaag motoriste daagliks op die strek van Makro in Durbanville se rigting, en in De Bronweg is daar ‘n groot probleem tussen Brackenfell Boulevard en Eversdalweg.
Dronkbestuur en spoed is die grootste bydraende faktore tot ongelukke en sterftes op ons paaie, het hy ná die vergadering aan TygerBurger gesê.
“Veral na-ure en oor naweke, wanneer verkeerspatrollies beperk is, word talle verkeersligte en pale omgery. Daar is ook baie ongelukke waarin dronkbestuurders deur mure en oor verkeersirkels ry. Doeltreffende polisiëring van dié oortredings is van kritieke belang om lewens te red.”
Motoriste moet ook self verantwoordelikheid neem vir hul gedrag en selfbeheersing toepas, ongeag hoe ander motoriste bestuur.





