In ’n naweek wat as die warmste in jare beskryf is, moes inwoners van onder meer Silversands, Wesbank en gedeeltes van Blue Downs die afgelope naweek sonder water sit.
Temperature het op sekere plekke tot 40 °C gestyg en inwoners moes kanne water koop of by vragmotors gaan water haal.
Luidens ’n verklaring deur die Stad Kaapstad is ’n lekkende pyp vir die watertekort verantwoordelik.
Hoewel die Stad inwoners in kennis gestel het, was sommige steeds ongelukkig.
Sharon Cookson van Silversands sê die situasie het groot ongemak veroorsaak.
“My ma is ’n bejaarde en my broer is blind en ek het drie skoolgaande kinders. Ons moes baie liters water koop, want skoolklere moes ook nog gewas word. Dit was regtig ’n ongemaklike naweek,” sê Cookson.
Pakamisa Keswa, ’n gemeenskapsleier van Silversands, het die situasie as ’n krisis beskryf.
“Ek het gaan kyk na waar die pyp gelek het en die water het al opgedam. Ons het heeltyd probeer om vragmotors met water by alle mense uit te kry, maar dit was moeilik.
“Ek het veral die kinders jammer gekry, maar dit is ook belangrik dat die pyp reggemaak word sodat ons nie weer hierdie probleme ervaar nie” sê Keswa.
Teen gistermiddag was daar nog steeds geen water in die krane nie, maar die Stad het in ’n verklaring verduidelik dat hulle tydens opgrawings groter probleme ontdek het.
“Die Stad vra om verskoning vir die vertraging om die water aan te sit. Ons spanne werk dag en nag om die probleem om te los.
“Toe die spanne die pyp oopmaak, het hulle besef ’n verbindingstuk is deur waterdruk beskadig en dit moet vervang word,” lui die verklaring.





