Leerders van die Hoërskool Bellville dra ’n banier om die skool se 85ste verjaardag te vier. As deel van die verrigtinge het hulle een van die skool se eerste bankies van die vorige skoolgeboue na die huidige terrein gedra.


Leerders aan die Hoërskool Bellville het verlede week die strate ingevaar om hul 85ste bestaansjaar met onder meer ’n optog te vier.

Die skool het hiermee sy tradisie voortgesit om van die ou skoolgebou na die nuwe skoolgebou te stap.

“Die Hoërskool Bellville het ’n nederige begin gehad toe 25 leerders in grade 8 en 9 en twee onderwysers mekaar in ’n saal naby die kruising van Durban- en Voortrekkerweg ontmoet het. Drie jaar later (1940) is die eerste fase van die skoolgebou langs Voortrekkerweg, nou Northlink Kollege, deur die leerders en opvoeders betrek,” verduidelik Hannelie van Lill, bemarker van die skool.

Die gebou in Voortrekkerweg het gaandeweg ondoeltreffend geword en leerders het in Junie 1994 help dra aan skoolbanke van die ou gebou na die nuwe terrein in De La Hayelaan.

“Dit is die tradisie wat die skool elke vyf jaar voortsit waar leerders met een van die skool se eerste bankies van die vorige skoolgeboue na die huidige terrein stap. Dit beteken dat elke leerder van die Hoërskool Bellville een keer in sy/haar skoolloopbaan aan die optog meedoen.”

Vanjaar het Deon du Plessis, skoolhoof, Emile Janse van Rensburg, een van die adjunkhoofde, die hoofleiers en Johan Joubert, een van die onderwysers in beheer van die leerderleiers, Dinsdag die dag met ’n kranslegging by die eerste skoolgebou begin.

Die res van die skool het hulle by die tweede skoolgebou – Northlink Kollege – ingewag.

Leerders in Ou Paarlweg.FOTO:

Elke klas het hul eie banier gemaak. FOTO:

Massas leerders het aan die optog deelgeneem. Die skool se Vlam van Herinnering is na afloop van die optog deur Erwin Schwella, oud-leerder en bekende politikus, en Emile Janse van Rensburg, adjunkhoof, aangesteek, FOTO:

Graad 11-leerders reg vir aksie.FOTO:

Leerders van die Hoërskool Bellville dra ’n banier om die skool se 85ste verjaardag te vier. As deel van die verrigtinge het hulle een van die skool se eerste bankies van die vorige skoolgeboue na die huidige terrein gedra.

Janse van Rensburg, wat in albei skoolgeboue as onderwyser gewerk het, het hier ook ’n krans gelê.

Die polisie en verkeerspolisie het die leerders toe na hul huidige gebou vergesel.

Erwin Schwella, oudleerder (1971) en bekende akademikus, het daarna saam met Janse van Rensburg die ”vlam van herinnering” by die skool aangesteek.

Van Lill sê hulle beplan ’n paar groot projekte vir die jaar, waaronder ’n akademiese tuin waar alle oudleerders wat ’n doktorsgraad verwerf het, vereer gaan word.

Die skool gaan ook “die grootste musiekblyspel in sy geskiedenis” op die planke bring. Hulle hoop meer as 300 leerders gaan aan die musiekblyspel, Vallei van Konings, deelneem. Dit gaan van 10 tot 17 Augustus opgevoer word.

Kitsfeite
  • Die skool is die oudste skool in die noordelike voorstede;
  • die skool was aanvanklik ’n dubbelmediumskool. In 1968 het die laaste Engelssprekende leerders die matriekeksamen afgelê en die skool het ’n Afrikaans medium skool geword;
  • Janke van Dyk (2017) en Jaanri Koch (2005) is as beste leerders in die land aangewys;
  • oud-leerders sluit onder andere die volgende in: Jan Ellis (akteur), Henry Mylne (regisseur), Henre Pretorius (vermaaklikheidster), Wynand Myburgh (musikant), Francois van Coke (musikant), Sean van Noordwyk (akteur), Dawie de Villiers (oud-Springbokkaptein), Marianne Kriel (Olimpiese swemmer), Rocco van Rooyen (Olimpiese spiesgooi-atleet), Hennie Bosman (karate-wêreldkampioen), Renate du Plessis (Olimpiese swemmer) en Hennie van Halen (musikant).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article