’n Paar weke nadat die nuwe verkeersirkel in Darwinstraat in Kraaifontein klaar gebou is, vind ’n inwoner van die straat homself feitlik vasgekeer in sy huis.
Nick Joubert, wat al 30 jaar hier woon, sê dis nou amper onmoontlik en hoogs gevaarlik vir hom en sy familielede om in of uit die oprit van sy huis te ry.
Waar vroeër ’n vierrigting-stopstraat was, is die verkeer so gereël dat inwoners op die besige straathoek nog in en uit kon ry.
“Nou is dit amper heeltemal onmoontlik en ek vrees dat ’n jaagduiwel op ’n dag in my of een van ons kinders of kleinkinders gaan vasry,” sê hy.
Joubert se oprit is minder as 10 meter van die sirkel, en motoriste wat meestal teen ’n hoë spoed om die sirkel jaag, het net ’n paar meter pad oor om spoed te verminder voordat hulle by sy oprit kom.
“Die spoed op die pad is ’n algemene probleem. Aan die spoedgrens word ook nie veel gedoen nie.”
Ook die motoriste wat in Dan King af om die sirkel ry, het net ’n sekonde of twee om te reageer omdat hulle skaars Joubert se oprit sien wanneer hulle uit die sirkel om die draai kom.
Geen spoedverkeerstekens is tans sigbaar op die pad naby Joubert se woning nie.
Hy sê die pad voor sy oprit is ’n gevaarsone met ’n baie hoë ongeluksrisiko waarop die Stad se padingenieurs geen ag geslaan het nie.
“Die pad is verbreed en die sirkel is aangebring om die swaarder verkeer te dra, maar nooit is enigsins met inwoners op die straathoeke gekonsulteer nie.
“Dis duidelik dat die beplanning baie swak was en dat dié soort probleme nie in berekening gebring is nie.”
Nadat Joubert dit onder die Stad se aandag gebring en voorgestel het dat die voetoorgang enkele meter voor sy oprit verhoog word om spoed te breek, is hy deur die Stad ingelig dat spoedwalle nie op “hoofpaaie” gebou mag word nie.
“Nou wat anders gaan hulle dan doen? Wat is belangriker – die Stad se reëls oor spoedwalle of ons lewe? Hulle kan dit nie net so los nie. Ons lewe is letterlik elke dag in gevaar. Ek vrees vir die lewe van my familielede wat by my kom kuier. Ek moet letterlik voor naby die sirkel in die pad gaan staan om by motoriste te pleit om stadiger te ry sodat my kinders en ander besoekers by my huis kan stop,” sê hy.
“Die voetoorgang is ook net etlike meter ná die sirkel se uitgang voor my huis aangebring en ek twyfel of enige voetgangers veilig daar oor die pad sal kan stap.”
Joubert sê hy is desperaat en daar bly vir hom net een opsie oor: om die een baan voor sy huis met swaar sementdromme af te sper.
“Indien die Stad nie ons lewe wil beskerm nie, sal ek dit self moet doen. Ek het geen opsie nie en sal die Stad op skrif daarvan in kennis stel,” sê hy.
TygerBurger het die Stad Kaapstad genader oor die kwessie, maar het teen druktyd nog geen kommentaar ontvang nie.





