’n Dertienjarige seun van Happy Valley het homself die taak opgelê om ongeletterde kinders uit sy gemeenskap te leer lees en skryf.
Trevor van Rooyen is nes duisende ander kinders in die land benadeel deur regulasies wat ingestel is toe die koronavirus uitgebreek het. Hy moes ook op ’n rotasie-basis skoolgaan, maar het besluit om nie ledig rond te sit nie.
“Daar is baie kinders in ons gemeenskap wat vir die een of ander rede nie skoolgaan nie, en ek het besef ek wil ’n verskil maak. Die dae wat ek nie skool toe gaan nie, leer ek so agt kinders lees en skryf,” sê Trevor.
Volgens hom kry baie kinders nie plek in skole in die omgewing nie en is hulle dan heeldag op straat. “Ons gemeenskap is baie arm, en as kinders eers uit die skool uit bly, kom hulle nie weer daar nie. Ek wil net my gemeenskap help,” sê Trevor.
Elize Macatees, Trevor se ma, sê sy is baie trots op haar seun. “Hy het alles uit sy eie begin doen en gaan net van krag tot krag. Die kinders leer baie by hom en daar is al ’n paar suksesstories. Die een outjie kon glad nie lees of skryf nie en teen die einde van verlede jaar kon hy al lees,” sê Macatees.
Volgens Macatees het haar seun ook verlede jaar sertifikate aan die kinders uitgedeel.
“Hy droom daarvan om eendag ’n onderwyser te word, en soms sê hy hy wil hy ’n regter word. Al wat ek weet, is dat hy toegewyd is en net die beste vir sy gemeenskap wil hê,” sê Macatees.
Sy sê Trevor se goeie werk het ook nie ongesiens verbygegaan nie. “Die plaaslike raadslid het ons onlangs besoek en studente in vroeë kinderontwikkeling gaan ook binnekort by die projek betrokke raak,” sê sy.
Shantel Moses, digitale en bemarkingsbestuurder van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, sê hulle het onlangs lees- en inkleurboeke by Trevor gaan aflaai.
“Ons het altyd boeke en prente oor en het dit gaan afgee. Ons gaan gewis in die toekoms weer daar ’n draai maak, want Happy Valley het ’n spesiale plek in my hart – dit is waar ek gewoon het toe ek hier kom,” sê Moses.
- Indien jy wil help met boeke of skryfbehoeftes, kan jy Macatees by 061 781 7631 bel.





