Desperate inwoners in ’n gevaarlike pad in Kraaifontein pleit nou al langer as ’n jaar by die owerhede vir spoedhobbels op dié pad wat meer as ’n kilometer binne ’n woongebied strek.
Hul stil en rustige straat het in ’n “snelweg” ontaard wat dag en nag hul rus versteur.
Volgens inwoners word die residensiële pad sonder enige padmerke deur groot vragmotors – bestem vir die hawe – en ander voertuie as ’n kortpad gebruik.
“Die meeste van die bestuurders het geen ontsag vir ons veiligheid, rus en vrede nie. Hulle jaag teen hoë spoed in die pad af,” sê Tiana Botha, ’n inwoner van die straat.
Volgens Botha was dit vir 19 jaar nie ’n probleem nie totdat Jannie Rossouwstraat sowat twee jaar gelede in ’n eenrigtingpad verander is.
“Daar is geen logiese rede dat die pad ’n eenrigting gemaak moes word nie, behalwe dalk vir rus en vrede vir daardie inwoners. Die probleem is net eenvoudig nou afgeskuif na almal in Tigerweg en ook Hillstraat, met geen vooruitsig op ’n oplossing nie.
“Dis duidelik die Stad Kaapstad het geen ontsag vir die huiseienaar nie en neem besluite wat nie sin maak nie,” sê sy.
“Ons het lang e-posse ter verduideliking gestuur, al die nodige stappe gevolg soos versoek en ook handtekeninge verkry, maar ’n lys verskonings waarom dit volgens reëls nie doenbaar is nie, is teruggestuur.
“Die pad is nie geskik vir dié soort swaarvoertuie nie. Dit is ’n absoluut aaklige situasie wat die afgelope twee jaar hier ontstaan het,” sê Botha.
Botha sê ’n kort “perseelvergadering” wat in die middel van die dag deur die ingenieurs gehou is, was nie voldoende om die probleem te evalueer nie.
“Ek sou graag die stad se betrokke amptenaar wou nooi om hom ’n smakie van ons almal se ongerief te gee. Hy kan net ’n naweek in een van ons se huise kom bly om eerstehands te beleef waardeur ons gaan. Dit voel of daar letterlik deur jou erf gery word en is snags baie steurend.”
Teen druktyd het die Stad Kaapstad nog nie kommentaar oor die aangeleentheid gelewer nie.





