Haweloses wat oral kamp opslaan en rommel strooi soos hulle wil, het inwoners van Goodwood erg onthuts.

Dit gaan nie net oor die rommelstrooiery nie, maar van die haweloses maak van enige plek ’n toilet omdat hulle geen toilet- of wasgeriewe het waar hulle woon nie.

Dit is maar net van die probleme waarvoor die nuwe bestuur van die Goodwood Inwoners- en Belastingbetalersvereniging (GIBV) wat môre (Donderdag 24 Februarie) gekies gaan word, ’n oplossing sal moet vind.

“Van die haweloses het ook kinders en troeteldiere wat saam met hulle in haglike omstandighede woon, wat nie geskik vir mens of dier is nie,” sê Faizel Petersen, huidige voorsitter van die (GIBV).

“Ons het nou via ons buurtwagte en ander gemeenskapsorganisasies verneem die haweloses en hul haglike omstandighede het erg toegeneem ná die hooggeregshof se onlangse beslissing teen die Stad Kaapstad.

Gemengde seineVolgens hom sien hulle hoe dinge gedoen en nie gedoen kan word nie rakende die haweloses in Table View, en dit stuur gemengde seine uit.

“Ons het baie munisipale ordonnansies wat in die Goodwood-gebied oortree word, maar geen beamptes is in die gebied om die wette te kan toepas nie, soos drink in die openbaar, die onwettige oprig van tente of strukture en die haweloses se gedrag.

“Die inwoners voel meer moet gedoen word om te keer dat die haweloses Maandae en Dinsdae die vullisdromme deursoek na kos en dan die rommel net so los sonder om dit terug in die vullisdromme te gooi,” sê Petersen.

Waterpyp barsDie haweloses is maar een van die talle probleme waarmee inwoners van Goodwood sukkel. Die afgelope drie maande het baie gevalle van waterpype wat gebars het en duisende liters water wat weggevloei het, voorgekom.

“Wanneer jy ’n oproep maak, neem dit tyd voordat aandag by die betrokke departement van die Stad Kaapstad aan jou klagte gegee word.

“Dan word die GIBV genader om navraag te doen in die hoop dat uitsluitsel vinniger gegee kan word. Die meeste van die raadslede woon nie in ons wyke nie en het nie eerstehandse kennis van die uitdagings waarmee ons in die gebied te doen het nie.

“Die dinkskrum wat ons onlangs gehad het, was baie insiggewend, want almal wat Goodwood se belange op die hart dra, het dit bygewoon en ooreengekom om gesamentlik oplossings vir die gebied te vind.

“Die raadslede het voorheen ons klagtes as ’n persoonlike aanval beskou, hoewel hulle inwoners en hul ondersteuners in hul wyke met hul navrae gehelp het.

“Ons het nou ’n platform gestig waar inwoners met die raadslede kan kommunikeer sodat beter gesprekvoering tussen die inwoners en die raadslede kan plaasvind en die raadslede kan besef hoe noodsaaklik dit is dat probleme opgelos moet word,” sê Petersen.

Dan Platro, die vorige burgemeester, het gereeld met die inwoners vergader en ’n lys bekommernisse is telkens aan hom oorhandig.

Aandag is wel aan sommige daarvan gegee, maar die meerderheid moet nog bespreek en oplossings voor gevind word.

Goodwood het sy eie uitdagingsVolgens Petersen dateer die bekommernisse terug tot 12 Junie 2019 en die inwoners het deur die jare hul misnoeë met die wyksraadslede te kenne gegee.

“Die inwoners wil nie hoor wat die Stad Kaapstad in ander gebiede doen nie, want Goodwood se probleme is nie noodwendig dieselfde nie, maar niks word daaraan gedoen nie.

“Ons as belastingbetalers van Goodwood voel ons betaal baie vir water en munisipale dienste in ons gebied en voel ons omgewing se probleme is ook belangrik en oplossings moet gevind word.

“Ons as inwoners van Goodwood voel dat die Stad sy verpligtinge teenoor diegene wat betaal om die Stad aan die gang te hou, moet nakom deur toe te sien dat verligting vir die belastingbetalers bewerkstellig kan word deur die waterpypheffing en die basiese elektrisiteitsdiensfooi te skrap,” sê Petersen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article