Polisiebeamptes en veiligheidsbeamptes by die toneel in De Grendel, waar ’n man onlangs vermoor is.

Credit: SYSTEM

Die Parow-polisie ondersoek ’n moord ná die dood van ’n onbekende man onlangs naby die sportterrein in De Grendel.

Kapt. Kevin Williams, polisiewoordvoerder, het die voorval, wat Dinsdag 8 Maart aangemeld is, bevestig.

Die polisie is om 13:15 ontbied.

Die slagoffer is glo met ’n mes in die nek gesteek, sê Williams.

Hy sê geen ooggetuies is opgespoor nie.

“Die ondersoek duur voort,” sê hy.

Deon Maneveld, voorsitter van die Parow-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê hy is ook oor die voorval ingelig.

“Dit lyk asof dit een van die individue is wat onder die brug gewoon het,” sê Maneveld.

Hy het ook aangedui dat die slagoffer as gevolg van ’n steekwond dood is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article