Tygerberg-Meals on Wheels in Parow het onlangs in samewerking met Struisbaai-Meals on Wheels sy eerste uitreikprogram buite die Skiereiland gehou toe 100 potte elk met 58 liter potjiekos in die Wes-Kaap versprei is.
Altesaam 200 etes kon uit elke pot geskep word.
“Ons het drie potte in Wellington gaan haal en die potjiekos is aangevul met 120 liter rys wat deur Struisbaai- Meals on Wheels gekook is. 300 kg vrugte is op Robertson afgehaal en dit is aangevul met 800 pakkies lekkers en aartappelskyfies deur ons Parow-tak,” sê Anne-Marie Watt, bestuurder van Meals on Wheels in Parow.
Die besoek en uitreik in Struisbaai en omgewing is onder die vaandel van Outside the Bowl Africa gedoen en was die eerste uitreik na minderbevoorregtes in dié omgewing.
“Ons is baie dankbaar vir al ons skenkers, want sonder hulle kan ons nie die etes voorsien nie. Ons eerste stop was in Bredasdorp waar Noluvu Phyllis en haar span ons ingewag het. Hul hande het ’n groot verskil gemaak. Die hoogtepunt van die uitreik was in Napier waar rye mense vir ’n ete gewag het en ons het daar van die brode uitgedeel. Die kratte gevul met vrugte het ons neergesit en die mense genooi om self hul vrugte uit te haal. Vir ons was dit ’n voorreg om die vreugde op almal se gesigte te sien toe hulle hul vrugte kon uitkies,” sê Watt.
Die driepootpotte is deur Pep geborg en het nou ’n spesiale plek by Meals on Wheels in Parow.
“Voor ons vertrek uit Struisbaai het Seloma Gouws, bestuurder van die tak, ons bedank dat ons die kos uit Wellington aangery het en ook dat ons bereid was om saam met hulle te werk waar die behoefte so groot is. Nadat alles uitgedeel is, het ons die terugtog Kaap toe onderneem,” sê Watt.





