Selfs bejaardes het ook soms die geselskap van hul ouderdomsgroep nodig.
So sê Mariam Visagie, ’n gemeenskapswerker van Delft, wat elke Woensdag ’n groepie bejaardes bymekaar bring om te sosialiseer.
“Baie van hierdie mense is net by die huis en het nêrens om heen te gaan nie. In baie huishoudings in hierdie gebiede is die ouma die een wat die huishouding bymekaar hou en soms na kleinkinders moet kyk. Hulle het nooit tyd vir hulself of om eens te ontspan nie, en dit is hoekom ons hierdie kuiers reël,” sê Visagie.
Hoewel die senior klub reeds ’n geruime tyd aan die gang is, het ’n weldoener onlangs wol en breipenne geskenk wat die bejaardes nou gebruik om gebruiksartikels te maak.
“Ons het reeds matjies en sakke gemaak. Daar is ’n baie bekwame tannie wat die ander leer hoe om te brei en die bejaardes geniet die interaksie wat hulle met mense van hul eie ouderdom het. Daar is soveel eensame bejaardes, en om hulle so te sien, is vir my ’n riem onder die hart. Ons het ook nou begin om ander kunsvlyt-projekte aan te pak soos om gebruiksartikels met herwinde roomys-stokkies te maak. Wanneer die winter kom, wil ons serpe en wolmusse vir arm mense in die gemeenskap maak,” sê Visagie, wat ook die organisasie sonder winsbejag, Heart Community Angels, bedryf.
Mense wat die bejaardes graag wil bystaan of materiaal wil skenk, kan ’n WhatsApp-boodskap by 081 511 3457 aan Visagie stuur.





