Verlede week het TygerBurger berig oor van die groot projekte in die vooruitsig volgens die Stad Kaapstad se konsepbegroting vir die gebied onder subraad 21, wat ook Kuilsrivier grootliks insluit.
Vandeesweek kyk ons na die voorlopige wyksbegrotings vir wyk 19 en 11.
Vir die 2022/23-boekjaar is R1 miljoen vir elke wyk toegeken. Johannes van der Merwe, voorsitter van subraad 21, het voorheen verduidelik dat die subraad as sodanig nie ’n begroting het nie, maar wel oorsig oor die wykstoewysings wat deur die lyndepartemente van die Stad bestee word.
Siseko Mbandezi, burgemeesterskomiteelid vir finansies, sê in ’n onlangse mediaverklaring die wyk- en proporsioneel verteenwoordigende raadslede is die Stad se ambassadeurs wat moet help om inwoners oor munisipale sake ingelig te hou.
Die wyksraadslede besluit hoe die geld, wat aan die wyk toegeken word, elke boekjaar bestee gaan word, maar dit moet in oorleg met die gemeenskap gedoen word. Hier speel die wykskomitees ’n belangrike rol om die gemeenskap se behoeftes aan die raadslid oor te dra. Die subraad sal die voorstelle hersien en dit vir goedkeuring aan die raad voorlê. Volgens die Stad word raadsbesluite geneem op grond van hoe groot die behoefte is en die impak wat ’n projek sal hê.
Enigeen wat ’n projek in hul wyk wil voorstel, kan dit aan die wykskomitee, die wyksraadslid of die subraadbestuurder stuur. Wykskomiteevergaderings is ook oop vir bywoning deur die publiek.
Van der Merwe het op die openbare vergadering (vir wyke 11, 14, 19 en 108), wat op 7 April gehou is as inligtingsessie oor die konsepbegroting en die Stad se konsep- geïntegreerde ontwikkelingsplan, daarop gewys dat dit nie moontlik is om in ’n boekjaar in alle behoeftes te voorsien nie.
’n Vorige versoek uit die gemeenskap van Highbury vir ’n kringtelevisiekamera is op die vergadering genoem. Van der Merwe het gesê daar moet in gedagte gehou word dat ander buurte soortgelyke versoeke het.
Op ’n vorige navraag van TygerBurger, het Van der Merwe gesê projekte in Excelsiorpark in Highbury, waar versperrings en beligting opgerig is, was op die vorige begroting. Die kamera sou dus op ’n volgende begroting gelys kan word op aanbeveling van die raadslid.
Ebrahim Sawant, wyk 19-raadslid, sê armoede, werkloosheid, behuising, misdaad, ’n gebrek aan sportgeriewe, asook die rioolstelsel en onwettige storting, is uitdagings in dié wyk. Sawant sê hy het al ses gemeenskapsvergaderings gehou om inwoners te betrek. Die wykskomitee vergader weer op 12 Mei.
Die voorlopige wyksbegroting vir 2022/23 vir wyk 19 sluit die opknap van Isabelpark in Kalkfontein in teen R200 000 (installasie van speeltoerusting en Polywood-meubels).
Vir Ou Nooiensfonteinweg in Gersham en Chapelstraat in Riverside Gardens word verkeerskalmering (spoedhobbels) beplan (R120 000). Ander bedryfsuitgawes sluit in: bewusmaking oor middelafhanklikheid ( R50 000); die ontwikkeling van sakevaardighede (R50 000); vroeëkinderont-wikkeling (R50 000); programme vir seniors (R30 000); vaardigheidsontwikke- ling (R50 000); Covid-19-ambassadeurs (R200 000); vrouebemagtiging (R100 000); opname oor entrepreneurskap (R100 000); sporttoerusting vir die Wesbank-saal (R50 000).
Sawant sê na gesprekke met die burgemeester en die subraadvoorsitter is daar konsensus dat hul alles in hul vermoë doen om probleme op te los. “Dit is ook belangrik vir my dat ons ’n jeugfokus moet behou in die implementering van ons planne. Die Stad se verskillende departemente se programme en projekte moet mekaar aanvul vir maksimum effektiwiteit.”
Wyk 11 se wyksraadslid is Wouter de Vos. Kapitale uitgawes op die voorlopige begroting vir wyk 11 sluit die opknap van Aloepark in Vredelust (R100 000); die opknap van die netbalbane in Lupinstraat in Sarepta (R150 000); konstruksie van sypaadjies in Planeetstraat in Sarepta (R200 000); en spoedhobbels in Sipresstraat in Sarepta (R200 000) in.
Vir die Kuilsrivier-biblioteek word R30 000 vir meubels (stoele, tafels en boekrakke) begroot.
Vir die PD Paulse-bibloteek in Sarepta word R15 000 vir meubels en R15 000 vir boeke begroot, asook R50 000 vir klanktoerusting vir die Sarepta-gemeenskapsaal.
Operasionele uitgawes sluit in: vaardigheidsontwikkeling vir die jeug (R40 000); vroeëkinderontwikkeling, insluitende opvoedkundige speelgoed vir sentrums (R20 000); bewusmaking oor middelafhanklikheid (R20 000); programme vir senior burgers (R50 000) en vir gesinne (R30 000), asook kleinsakeontwikkeling (R30 000). Vir die mooimaak van die dorp se ingange deur onder meer bome te plant, is R50 000 begroot.
- Kontak subraad 21 se bestuurder, Lorraine Frost, by 021 400 2344 of lorraine.frost@capetown.gov.za met navrae.
- Wyk 11: Kontak Wouter de Vos by 084 503 6115 of Pieter.deVos2@capetown.gov.za.
- Wyk 19: Kontak Ebrahim Sawant by 084 334 4786 of ebrahim.sawant@capetown.gov.za.





