Niemand moet vir hul TygerBurger betaal nie.
Dit is die boodskap van die koerant se redakteur, Cecilia Hume, nadat dit aan die lig gekom het dat iemand in Bonteheuwel die koerante vir R1 per koerant verkoop.
“TygerBurger was nog nooit en is nie tans te koop nie. Enigiemand wat hom daaraan skuldig maak om koerante te verkoop is besig om ’n misdaad te pleeg,” sê Hume.
Hume het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om enige verkope van die koerant dadelik aan te meld.
“On the Dot, wat die verspreiding van die koerant hanteer, het reeds met ’n ondersoek na die voorval begin,” sê Hume.
Angus McKenzie, raadslid vir Bonteheuwel het ’n videogreep op Facebook gelaai van iemand wat deur ’n gemeenskapslid aangespreek word omdat hy die koerante verkoop.
“Ons is bewus dat die koerant gratis is en sal enigeen wat dit probeer verkoop ontbloot,” sê McKenzie.
As jy iemand sien wat probeer om die koerant te verkoop, bel 021 910 6500 or stuur ’n e-pos na verspreiding@tygerburger.co.za.





