Kinders probeer Nooiensfonteinweg oorsteek onderweg van die kerk af.

Credit: SYSTEM

Die VGK Sarepta se gemeente se Silversands-wyk lewe in vrees.

Nie vrees om kerk toe te gaan nie, maar die vrees dat hulle raakgery gaan word as hulle oor die pad stap. En dit het al gebeur.

Ruben Cloete, ’n lidmaat van die kerk, sê gemeentelede moet oor Nooiensfonteinweg stap om by die kerk uit te kom: “Verskeie mense is al raakgery terwyl hulle oor die pad gestap het. ’n Kerkraadslid, wat ’n man in ’n rolstoel oor die pad wou help, is ’n paar jaar gelede doodgery. Die kruis by die ingang van die kerk is ’n stille bewys van die tragedie wat daar afgespeel het,” sê Cloete.

Volgens Cloete moet bejaardes en kinders die pad oorsteek en elke keer is dit ’n geval van lewe of dood.

“Motorbestuurders, en veral minibus-taxi’s, jaag asof die duiwel hulle jaag. Ons het al na die burgemeesterskantoor briewe geskryf en ook die ou en nuwe raadslid vir die gebied om hulp genader. Hierdie is ’n jare lange probleem en dit lyk of niemand ons wil help nie,” sê Cloete.

Jeff Smith, destyds sekretaris van die kerk, het so lank gelede as 2015 briewe na die munisipaliteit gestuur om te pleit dat ’n verkeerslig of voetoorgang voor die kerk aangebring word.

Die einste Smith is drie jaar later deur ’n jaagduiwel voor die kerk doodgery en steeds is daar nie gehoor gegee aan die gemeente se pleidooi nie.

Lyndon Khan van die burgemeesterskantoor sê hulle is nie bewus van ’n brief aan die burgemeester nie.

TygerBurger het die plaaslike raadslid, Nkosiphendule Lombi, om kommentaar genader en hy het bevestig dat hy wel ’n versoek van die kerk ontvang het.

“Dit is nie ’n nuwe saak nie. Ons het by die vervoerdepartement, met hulp van die subraad, aansoek gedoen (om verkeerskalmering) en wag steeds op terugvoer,” sê Lombi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article