’n Verpleegster van Belhar sê sy hoop die man wie se lewe sy verlede week gered het, gaan lank en gelukkig lewe.
Annelise Abrahams sê sy het soos gewoonlik verlede week die bus na die middestad gehaal, waar sy by ’n private hospitaal werk.
“Ons het so 05:30 by die bushalte stilgehou. Toe ons uitklim, het ek gesien die man haal swaar asem. Hy het op die grond neergeval, maar almal het net in hul eie rigting gestap,” sê Abrahams.
Sy het die man te hulp gesnel en dadelik met noodhulp begin.
“Ek het my selfoon vir ’n omstander gegee en gevra hy moet die ambulansdienste bel. Hulle het ná ’n rukkie opgedaag, die man gestabiliseer en na ’n plaaslike hospitaal geneem. Ek is toe werk toe,” sê Abrahams.
Volgens haar het sy agterna probeer om uit te vind wat van die man geword het. “Ek het uitgevind dat hy in die waaksaal van ’n hospitaal is, maar dat dit goed gaan met hom.
Weens vertroulikheidsprosedures mag ek nie sy naam en ander besonderhede kry nie. Ek hoop egter alles is wel en dat hy ’n lang en gesonde lewe sal hê,” sê Abrahams.





